Meer as drie jaar ná die dood van die Sweedse Anni Hindocha is Shrien Dewani vanaand onderweg na Suid-Afrika om tereg te staan op haar moord. Sy vlug uit Engeland gaan na verwagting vanaand land en hy sal na verwagting die aand in die Valkenburg psigiatriese hospitaal deurbring.

Shrien word daarvan aangekla dat hy tydens hul wittebrood in Kaapstad in November 2010 die huurmoord op sy bruid beplan het.

Wat het gebeur?

Anni, ’n ingenieur van Swede, en haar man, Shrien, ’n sakeman van Engeland, het in November 2010 na Suid-Afrika gereis om hul wittebrood hier te vier.

Tydens ’n toer van die informele nedersetting Gugulethu is hul toerbus gekaap en is Anni ontvoer en doodgeskiet. Shrien is tydens die kaping uit die motor gegooi en het ’n verbygaande motor gestop en om hulp gevra.

Anni se lyk is binne die minibus gevind. Volgens berigte is haar selfoon, horlosie en witgoud-en-diamantarmband gesteel.

Haar skietdood is aanvanklik as ’n rooftog en kaping beskou, maar besonderhede wat ná haar dood bekendgemaak is, het daarop gedui dat haar dood beplan is.

Aanklagte teen minibusbestuurder en medepligtiges

Die bestuurder van die minibus waarin Anni en Shrien gereis het, Zola Tongo, het later in ’n pleitooreenkoms met die staat skuld op haar moord erken en is in Desember 2010 tot 18 jaar tronkstraf gevonnis.

Zola se twee medepligtiges, Mziwamadoda Qwabe en Xolile Mngeni,  is albei skuldig bevind aan haar moord en is onderskeidelik 25 jaar en lewenslange tronkstraf opgelê.

Ingevolge sy pleitooreenkoms het Zola aangevoer Shrien het hom R15 000 aangebied om sy vrou te laat doodmaak.

Shrien se uitlewering aan Suid-Afrika:

Shrien is in Desember 2010 in hegtenis geneem nadat ’n lasbrief uitgereik is “na aanleiding van vermoede dat Shrien met ander saamgesweer het om Anni Dewani op 13 November 2010 te vermoor”.

In Augustus 2011 het die hof beslis Shrien Dewani kan aan Suid-Afrika uitgelewer word om tereg te staan op aanklagte in verband met die moord.

Maar die uitlewering is vertraag omdat Shrien se regspan aangevoer het sy geestelike toestand is onstabiel en dat sy gesondheid eers moet verbeter. Sy regspan het Zola se bewerings van ’n huurmoord as “totaal belaglik” afgemaak.

Sleutelvrae wat Shrien en sy regspan sal moet beantwoord:

  • Waarom is net Anni vermoor en hy uit die voertuig gegooi toe hulle gekaap is?
  • Waarom is duur bykomstighede, soos haar diamantring van sowat R350 000, in die motor op die sitplek agtergelaat?
  • Waarom wys kringtelevisiebeeldmateriaal hoe Shrien en Zola mekaar op 12 November in Shrien en Anni se hotel ontmoet? Volgens Zola het Shrien hom gevra om ’n huurmoordenaar te huur om sy vrou dood te maak.
  • Waarom wys beeldmateriaal hoe Shrien drie dae ná die moord ’n pakkie met kontant aan Zola oorhandig?

Wat gebeur nou verder?

Shrien vertrek vanaand van Londen na Suid-Afrika. Hy sal môre-oggend om halftwaalf in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn.

Mieke Vlok

Bronne: Daily Maverick, Wikipedia