Shaun Abrahams se lot is nou in president Jacob Zuma se hande.

shaunie
Die omstrede nasionale direkteur vir openbare vervolgings moes teen Maandag antwoorde gee oor waarom hy nie geskors moet word nadat hy ’n mislukte poging aangewend het om die minister van finansies, Pravin Gordhan, te vervolg nie.
Abrahams was in die spervuur nadat Gordhan saam met Oupa Magashula, voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), en Ivan Pillay, voormalige adjunkhoof van die SAID, van korrupsie aangekla is weens ’n beweerde onwettige ondersoekeenheid binne die SAID. Hy moes teen Maandagmiddag ’n verslag indien waarin hy redes gee waarom hy nie geskors moet word nie. Twee van sy kollegas by die Nasionale Vervolgingsgesag, Torie Pretorius en Sibongile Mzinyathi, moet ook aanvoer waarom hulle nie geskors moet word nie.
Die inhoud van hul verslae gaan glo nie aan die publiek bekendgemaak word nie. Die hooggeregshof in Pretoria het verlede week ’n aansoek deur die burgerregte-organisasies Freedom Under Law en die Helen Suzman-stigting verwerp nadat die groepe gevra het Abrahams, Pretorius en Mzinyathi moet dadelik geskors word.

Intussen het hoofregter Mogoeng Mogoeng Maandag by ’n mediabespreking gesê hy wil hom nie uitlaat oor die kwessies rondom Shaun Abrahams nie, ingeval dit nog in die Konstitusionele Hof gaan draai.

President Zuma moet nou al drie se verslae ondersoek en ’n besluit neem.