Sharon Osbourne wou van Ozzy skei toe sy uitvind hy gebruik weer dwelms.

Die X Factor-beoordelaar was verbaas haar man was nie verpletter toe sy sê sy wil van hom skei nie. Sy het hom al in hul 32 jaar van getroude lewe ’n tweede kans gegee, maar hy het weer aan drank en dwelms verslaaf geraak.

Sy skryf in haar boek Unbreakable: “Toe hy praat, was hy parmantig en arrogant. Daar was nie ’n sweempie berou nie.

“Iets het gebreek. Ek het gedink: Ek kan nie sy nonsens langer verduur nie. Dis wat ek nog altyd gedoen het, en ek is moeg. Ek het gesê: Ek wil skei . . . Hy het nie eens geskok gelyk nie.

“Ek dink hy het my nie geglo nie, maar ek was heeltemal ernstig. Ek het gedink hy sou verpletter wees.”

Sharon het toe die helfte van alles en R1,6 miljoen per maand geëis. Sy het geweet die Black Sabbath-rocker sou nie die gedagte kon verduur om geld te verloor nie.

Sharon (60) het toe koffie oor Ozzy uitgegooi en die twee het gestry.

Sy skryf verder: “Ek het geweet geld was Ozzy se achilleshiel, en die gedagte om dit te verloor, sou ’n groter indruk op hom maak as om my te verloor. ‘Oor my dooie liggaam,’ het hy gesê.

“My achilleshiel is respek, of eerder die gebrek daaraan by ander mense. Ek het gevoel hy skat my nie na waarde nie, en dit was dit. Breek. Ek was besig om ’n cappuccino te drink, en alles het op sy kop beland – die koffie, die koppie en die dekselse piering.

“Toe het ek hom gegryp en met my een hand sy kosbare hare getrek, terwyl ek met die ander hand na sy juweliersware gegryp het.”