Sharon Osbourne dink Justin Bieber probeer maak of hy rof is en meen die jong ster is verlore.

Die mede-aanbieder van The Talk het die 19-jarige sanger se nuwe stoutseunbeeld afgekraak en gesê hy is “omtrent so gemeen soos ’n ****** babakat”.

Sharon (60) het aan The Daily Beast gesê: “Ek voel baie jammer vir hom. Daar is hierdie seuntjie met ’n groot droom. Hy is oulik en meisies is dol oor hom. Hy wil ’n gemene ou wees, maar hy is omtrent so gemeen soos ’n ****** babakat. Nou probeer hy in opstand kom. Dis soos om in ’n emmer te ***. Dis soos: ‘O, ons is stoutseuns!’ *** weg! Julle weet nie wat gemeen is nie.

“En ek dink regtig hy is verlore. Ek dink hy verstaan nie dat hy wit is en nie swart nie en dis ’n reuse probleem. In hierdie stadium van sy loopbaan is dit gevaarlik, want ons het dit al miljoene kere tevore gesien. Wat doen jy as jy ’n kinderster is en dan wil jy ’n man word? Baie min kry dit reg.”

Sharon het ook onder die rapper Kanye West (36) ingeklim. Sy het gesê: “Ek het nie tyd vir hom nie. Hy verveel my. Ek het dit op die program gesê. Hy is ’n man met ’n gemiddelde voorkoms en gemiddelde talent, maar hy is ’n goeie verkoopsman. Hy moet eintlik motors verkoop, want hulle sal ****** by die deur uit vlieg. Hy is sy eie grootste aanhanger.”