Ons weet almal Sharon en Ozzy het deur die jare al vele sakke sout saam opgeëet, maar nog drama uit die rockster-egpaar se verlede het nou aan die lig gekom.

Die kletsprogramaanbieder het onlangs nog ’n skokonthulling oor die twee se onstuimige verlede gemaak toe sy op The Talk verklap sy het die Black Sabbath-ster meer as een keer saam met ’n kinderoppasser in die bed betrap, berig US Weekly.

“Ons het altyd vier kinderoppassers gehad, want ek het drie kinders gehad,” het die 63-jarige ma van Aimee (32), Jack (30) en Kelly Osbourne (31) gesê.

“Ek het vyf dae per week gewerk; ek het gereis.

“Jy kan nie ’n kinderoppasser sewe dae per week laat werk nie.”

Lees ook: Sharon Osbourne wou oor sy verslawing van Ozzy skei

Maar om so baie oppassers te hê het toe meer moeilikheid veroorsaak as wat dit werd was, volgens die werklikheidster.

“Hulle wou almal glansmense wees. Hulle wou almal geld hê . . . Ek het twee van hulle saam met Ozzy in die bed gevang!”

Sharon sê dit was op “verskillende tye,” maar “dit gaan aan en aan”.

Sharon het op die program haar hart oopgemaak toe gepraat word oor Susan Sarandon se dogter, Eva Amurri Martino, se onlangse blogplasing oor hoe sy en haar man hul kinderopasser in die pad gesteek het, want dié het “per ongeluk” ’n seksueel eksplisiete teksboodskap aan haar man gestuur.

Sharon en haar 67-jarige man se verhouding lyk nou standvastiger, maar hul huwelik was allesbehalwe vredig.

Lees ook: Kaalbas Ozzy takel inbreker

Hulle het jare van geweld en dwelmmisbruik trotseer en is selfs in 2013 ’n ruk uitmekaar toe Ozzy weer van die waterkar afval.

Sharon het haar man se ontrouheid gerasionaliseer deur te sê hy was “van sy sinne beroof” (op dwelms) toe dit gebeur het.

Wat het sy daaromtrent gedoen?

Pleks van haar man uitskop, het Sharon ’n ander soort oppasser aangestel.

“Ek stel toe ’n manlike oppasser met die naam Big Dave aan,” het sy afgesluit.

“Moet nooit ’n vroulike kinderoppasser vertrou nie!”

Bronne: MailOnline, US Weekly, CBS

Ander stories op Huisgenoot.com:

OJ-moordraaisel verdiep ná moontlike moordmes opgegrawe word

‘Net met die Here se hulp en gebede sal hy dit finaal oorwin’ sê sesjarige kankerlyer se ma

SLC: nuwe naam, nuwe dinamika

‘Verpletterde’ Carl maak hart oop oor Oscar se appèl-uitslag