Sharon Osbourne is Dinsdag 30 April amptelik gedagvaar om te getuig in die verhoor oor Michael Jackson se onregmatige dood nadat sy erken het, sy het dalk bewyse om Katherine Jackson in haar saak teen AEG Live te ondersteun.

Die mede-aanbieder van The Talk is in Los Angeles ingelig dat sy moet getuig in die bitter regsgeding van R360 miljoen tussen die wyle koning van pop se ma, Katherine Jackson, en die konsertpromotors AEG Live.

Sharon het, nadat sy amptelik in kennis gestel is, gesê: “Ek het gedink, wat doen jy as jy gedagvaar is? Jy kom jou plig na. As iemand jou vra om hof toe te kom, kom jy jou plig na.”

Sharon is vantevore genoem as ’n moontlike getuie. Dit was nadat sy vertel het sy het dalk bewyse om Katherine se bewering te staaf dat die promotors nalatig was toe hulle Conrad Murray gevra het om na die Thriller-sanger se mediese belange om te sien. Michael was aan die voorberei op AEG Live se 50 konserte in Londen tydens sy dood in Junie 2009 aan ’n oordosis Propofol,

Sharon (60), wat onlangs erken het sy is “verpletter” nadat haar man die afgelope 18 maande weer aan voorskrifpille verslaaf geraak het, het verlede maand op haar geselsprogram gesê: “Daar is sekere mense wat vir daardie maatskappy (AEG Live) gewerk het, wat geweet het Michael Jackson was nie gesond nie en hulle het nie omgegee nie, want dit was sake. En hulle sou in elk geval geld gemaak het, of hy nou opgetree het of nie.

“Ek het gesels met mense by daardie maatskappy wat dit vir my gesê het. As die Jackson-familie wil hê ek moet hof toe gaan, sal ek sê wie dit vir my gesê het.”