Sharon Osbourne drink al 16 jaar lank medisyne vir depressie.

Die 62-jarige TV-persoonlikheid het die skokkende onthulling in ’n episode van haar program The Talk gemaak.

Haar mede-aanbieder Aisha Tyler het verbaas uitgeroep: “Jy het nog nooit daaroor gepraat nie!” waarop Sharon geantwoord het: “Niemand het ooit gevra nie!”

Toe sy eindelik oor die siekte hart oopmaak, het die ster vertel hoe terneergedruk dit haar soms laat voel.

“Party dae is beter as ander en party dae voel jy jy wil net die lakens oor jou kop trek en in die bed bly en net mooi niks doen nie, behalwe verrot,” het sy erken.

Die onthulling het gespruit uit ’n bespreking oor die komediant Wayne Brady se onlangse openhartige toespraak oor sy stryd teen depressie.

“Party dae wil jy nie beweeg nie; jy kan nie in die duisternis beweeg nie,” het hy onlangs aan Entertainment Tonight gesê. “Jy dink, weet jy wat, ek gaan net hier sit en ek gaan hierin versink. En al maak dit hoe seer, gaan ek net hier sit, want dit is wat ek verdien. Want ek is ’n aaklige mens”

Sharon het oor die jare persoonlike en gesondheidsterugslae beleef – onder meer huweliksprobleme met haar rocker-man, Ozzy, weens sy dwelm- en drankmisbruik. Kolonkanker is in 2002 by haar gediagnoseer en in 2012 het sy bekendgemaak sy het ’n dubbele mastektomie ondergaan nadat sy uitgevind het sy het ’n geen wat haar risiko vir borskanker verhoog.

“Sharon is die sterkste vrou wat ek ken. Toe ek die skandeerbeelde van die kolon sien, het ek gedink nooit. Die kanker was baie aggressief,” het Ozzy op ’n keer gesê.

“Sy het drie chemoterapiesessies per maand gekry en ná nege maande het die newe-effekte ál erger geword.

“Sy het toevalle gehad – sy het soos in The Exorcist op die bed rondgewip. Ek het gedink ek gaan haar verloor.

“Ek het gedink dit gaan alles vir haar te veel wees. Aan die einde van die nege maande het die dokter gesê: ‘Sy gaan nege maande nodig hê om oor die chemoterapie te kom.’ Haar antwoord was: ‘Ek is kankervry. Wonderlik. Ek gaan inkopies doen.’ ”

© Cover Media