Kelly Osbourne se ma reël haar troue.

Sharon Osbourne sê gerugte van ’n bakleiery tussen haar en Kelly (28) oor haar troue met die kok Matthew Mosshart is onwaar. Sy doen alles in haar vermoë om seker te maak Kelly, ’n medeaanbieder van Fashion Police, se groot dag is perfek.

Sharon reis ’n paar keer per week tussen Los Angeles en Brittanje vir die geselsprogram The Talk, waarvan sy ’n medeaanbieder is, en die verfilming van The X Factor. Sy het Woensdag op die geselsprogram gesê: “Asof ek met my dogter oor haar troue sal stry; dis iets wat elke ma beslis nie wil doen nie.

“Kelly trou presies waar sy wil en die kos is wat Kelly wil hê, en dis dit. Ek reël dit net omdat sy selfs besiger as ek is. Ek kan met die spysenier werk en ek kan met die partytjiebeplanner werk, dan hoef sy dit nie te doen nie. Sy het my gevra om dit vir haar te beplan.”

’n Bron het aan die tydskrif Star vertel dat Kelly moedeloos is met haar ma. Sharon wil glo hê hulle moet liewer in Hawaii trou as in Engeland, en wil nie vegetariese kos op die onthaal voorsit nie.

Sharon het egter gesê dis belaglik. “Die helfte van Kelly se vriende is vegetariërs, asof ons nie vir hulle kos sal gee nie.” Sy het laggend bygevoeg: “Ek wil varktjops hê.”