Shane Warne probeer Liz Hurley met liefdevolle twiets terugwen.

Die eertydse krieketspeler het ’n stroperige boodskap getwiet, waarin hy sy vorige verloofde ’n engel noem. Hy het dit gedoen nadat hy foto’s van haar sonder haar verloofring by ’n liefdadigheidsgeleentheid vir borskanker in New York gesien het.

Hy het op Twitter geskryf: “Geluk met al die wonderlike werk wat jy doen. Hoop dié week was nog ’n groot sukses. Baie trots op jou, engel.”

Die twee is glo uitmekaar omdat Shane (44) nie ’n troudatum wou vasstel nie. Hy wil die aktrise glo bitter graag terughê.

’n Ingeligte het aan The Sun on Sunday vertel: “Shane het dit gehaat om foto’s van Liz sonder haar ring te sien, en wil haar bitter graag terugwen.

“Hy is onwillig om te erken dis verby en dat hy haar mis.”

Liz (48) het hom vir sy gawe woorde bedank, en gesê almal het Shane by die geleentheid gemis. Tog is sy glo nie heeltemal oortuig hulle kan dit laat werk nie.