Shane Warne wil glo sy verhouding met Liz Hurley herstel, al erken hy hulle gaan deur ’n moeilike tyd.

Die voormalige krieketster (44) het te midde van bespiegelinge oor liefdesprobleme tussen hom en Liz na die voormalige model (48) gevlieg om met haar te gaan vrede maak. Hy sal glo so sjarmant moontlik moet wees om haar sy kant van die saak te laat insien.

’n Ingeligte het aan die Daily Mirror gesê: “Shane is nog baie lief vir Elizabeth en wil dinge tussen hulle laat werk. Die lang afstand het nie gehelp nie, dus het hy vliegkaartjies gekoop en doen hy moeite om haar te sien.

“Hulle het mekaar weens hul druk werkprogramme die laaste ruk min gesien. Hy sien nou daarna uit om by haar te wees. Liz is op die oomblik taamlik keelvol. Sy was baie verlief op Shane, maar voel ná hul laaste argument sy het genoeg gehad. Om die waarheid te sê, is sy nogal verveeld met hom en sommige van die dinge wat hy sê. Shane sal op sy sjarmantste moet wees.”

Die twee het verlede jaar ’n huis van R93 miljoen gekoop in Herefordshire, Engeland. Shane het onlangs gesê hulle het nog nie hul verhouding laat vaar nie, maar het probleme. Hy het op Twitter geskryf: “Sommige van die berigte oor my & EH is absolute gemors. Ja, ons werk aan ’n paar (privaat) probleme, maar ons gooi nog nie die handdoek in nie.”