“Ek is nie bang vir die ouderdom nie,” het Shaleen dié aand gesê. “Op 60 is ek gelukkig en tevrede met wie ek is. Ek het baie hard gewerk vir alles wat ek het.” [post-slider] Shaleen het in 1988 diep in mense se harte gekruip toe sy die titelrol in Fiela Se Kind vertolk het en sy was langer as ’n dekade die geliefde Nenna in die sepie Egoli. “Ek weet ek het die pad oopgetrap vir baie ander,” het sy gesê. “Ek het op niemand se rug gery nie en het almal se verwagtinge oortref.”

'Ek weet ek het die pad oopgetrap vir baie ander,' het sy gesê. 'Ek het op niemand se rug gery nie en het almal se verwagtinge oortref.'

Die Kaapse sanggroep The Rockets, Shaleen se gunstelinggroep, het die hele aand treffers van onder andere Michael Jackson en Bruno Mars gesing. Elke gas het boonop ’n spesiale album van die groep gekry. “Dis ’n versamelaarsitem,” het die verjaardagnooi verduidelik.

Shaleen se geliefkoosde liedjies verskyn hierop en sy pryk ook saam met hulle op die omslag. Die wyn vir die aand is deur Solms-Delta-kelders en Orange River Cellars geborg en elke gas het ook ’n bottel wyn gekry. “My gesig is op die bottel; ek voel skoon famous,” het Shaleen geskerts. “Ek kan amper nie glo ek is al langer as 30 jaar in die bedryf nie. Dis so lekker om dit saam met almal te vier.”

Gaste kon smul aan ’n heerlike, ivoorkleurige drielaagkoek deur Estelle de Jager. Dit was met eetbare kant versier, en die rose daarop is met die hand gemaak. Marina Kirk-Osman het kolwyntjies gemaak met Shaleen se gesig daarop. Op haar beurt het Esther Pretorius gesorg vir die reëlings vir die geskenkpakkies vir die gaste.

Moet ook nie dink Shaleen het sommer enigiets aangehad nie. Haar rooi rok met kantmoue is deur die ontwerper Diaan Daniels gemaak. “Ek is gek oor rooi, want dit pas baie mooi by my vel,” het Shaleen vertel. Haar grimering is deur Pierce Baybrook behartig en Wendy van Zig Zag het gesorg dat Shaleen se hare pragtig lyk.

Die gaste kon heelaand koffie van Enrista drink, en hulle is met van dié koffie huis toe. Bekendes soos Lizz Meiring en Tobie Cronjé het die geleentheid bygewoon. “Shaleen straal liefde uit; sy het ’n groot hart,” het Lizz gesê.

Shaleen se niggie Michelle Surtie de Bruyn het ’n emosiebelaaide toespraak gemaak en vertel wat ’n inspirasie sy is. Ander bekendes wat ook daar was, sluit in Vinette Ebrahim, Brümilda van Rensburg, Deon Coetzee, Therese Benade, Hennie van Greunen en André Schwartz.

Vir nog inligting oor die partytjie en ’n volledige lys van borge, koop die nuutste Huisgenoot.