SY IS ’n rooiwyn-meisie, hy ’n brandewyn-en-Coke-man. Maar wat borrelende lewenslus en hope talent betref, kan jy maar sê dié sexy tweestuks is soos een mens.

TV-slawe ken Leandie du Randt (22) al as Mieke in Getroud met Rugby en Werner Coetser (22) as Bernard in 7de Laan, en nou kry fliekvlooie ’n lekker bonus: Dié twee toneelvondse is binnekort saam op die silwerdoek as ’n verliefde studentepaartjie te sien.

Die fliek is Susanna van Biljon, Frans Marx se 40ste, en Leandie belowe ’n passievolle silwerdoekreis. “Dis ’n pragtige storie, ’n verhaal van geloof, hoop en liefde. ’n Romantiese drama.”

G’n wonder nie, want dit gaan oor ’n meisie – Karen Zoid vertolk die rol – wat daarvan droom om ’n Huisgenoot-Skouspel-ster te word . . .

En romanse én drama sal daar oorgenoeg wees, verklap Werner. Hy speel Hennie, seun van die skaapboer-wewenaar Dirk (David Rees). Dirk het ’n ogie op Rebecca Dreyer, oftewel Karen. Sy werk in ’n neerdrukkende kafeetjie, maar droom daarvan om eendag ’n sanger te word en by Skouspel te sing.

En wat gebeur dan? Al wat ons verklap, is dat die fliek ook by Skouspel-Plus in Kaapstad verfilm is . . .

Maar al is sang die tema, vertel die fliek eintlik iets van elke mens se droom, sê Werner oor sy rolprentdebuut. “Nes Rebecca het ons almal drome – en, nes sy, ook struikelblokke om te oorwin.”

Leandie knik. “Maar ’n mens mag nooit teen die struikelblokke vaskyk nie. Jy moet op jou droom gefokus bly. En dit lééf!”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 23 September 2010 - kyk ook die videogreep hieronder oor "agter die skerms" van Susanna van Biljon