Wat meer kan ’n man vra as ’n blyplek met ’n see-uitsig in die prentjiemooi Llandudno in Kaapstad, met hangmat en al? Veral as jy dit met ’n Suid-Afrikaanse meisie deel wat soos die meeste TV-kykers in die land dink jy is onweerstaanbaar . . .

Dis geen wonder Derek van Dam, e.tv se aantreklike weerman, is glad nie haastig terug na sy geboorteland nie, al verlang hy na die lekker Amerikaanse graankos sonder semels.

Hy is trouens in sy noppies dat hy onlangs vaste verblyfreg in Suid-Afrika gekry het. “Wat ’n eer om toestemming te kry om in dié wonderlike land te bly,” sê hy.

Ná twee jaar in sy aanneemland is hy nou behoorlik hier ingeburger. Derek (27) en sy meisie van die afgelope twintig maande, Katherine McChesney (27), woon sedert Junie in die spogbuurt Llandudno. Hy groet ons met sy hond, Balou, al stertswaaiend voor die deur.

Toe ons laas met e.tv se aantreklike Amerikaanse weerman gesels het, was hy enkellopend en het hy nog gesukkel om sy tong om ons plekname geknoop te kry. Nou verlang hy nog soms met ’n seer hart na sy geboorteland terug, maar die liefde, sy werk as e.tv se hoofmeteoroloog en die lekker lewe van son, see en branderplankry gaan hom nog sommer lank in Suid-Afrika hou.

Lees die volledige artikel in die uitgawe van 25 Maart.