Hou hart, hou!

A photo posted by Armand Aucamp (@armandaucamp) on

Die aantreklike akteur Armand Aucamp skuif dalk eersdaags van voor die kamera na daaragter sodra hy sy droom kan bewaarheid om ’n rolprentvervaardiger te word . . .

Maar moenie té bekommerd wees nie, die ster van Die Boekklub stel ons gerus hy sal steeds op die kassie en silwerdoek te sien wees.

“Hoe langer ek in die bedryf is, hoe meer begin die droom om regie te behartig en draaiboeke te skryf by my posvat,” vertel hy. “Ek probeer soveel moontlik skryf, maar soos dit maar gaan, begin jy met iets en dink dit gaan nie werk nie, en dan beweeg jy aan na ’n nuwe idee.”

Armand verklap hy is nie van plan om enige formele opleiding te ontvang om sy droom te bewaarheid nie. Hy gaan bloot soveel as wat hy kan uit ander se werk leer.

“Ek lees graag en kyk baie flieks,” sê hy. “Ek dink dit is die beste leerskool – om te kyk en waar te neem.”

Die ster van die fliek Ballade vir ’n Enkeling put veral inspirasie uit die werk van vervaardigers soos Alejandro González Iñárritu en Woody Allen. Alejandro was onder meer verantwoordelik vir verlede jaar se lokettreffer The Revenant, waarvoor Leonardo DiCaprio ’n Oscar gewen het. Woody Allen is bekend vir sy menslike dramas soos Manhattan en Annie Hall. “Hulle is twee uiteenlopende filmmakers wat albei ’n unieke stempel op hul flieks afdruk,” verduidelik Armand. “Alejandro gebruik hierdie ongelooflike kameraskote en tegnieke terwyl Allen seker die beste dialoog en karakters skep. “Vir my is die belangrikste om ’n visuele storie te vertel.”

A photo posted by Armand Aucamp (@armandaucamp) on

Nes sy held Woody Allen, sal Armand ook graag in sy eie rolprente wil verskyn, in die hoofrol al dan nie.

Maar watter soort fliek sal Armand graag wil maak? Hy bly ’n oomblik stil en kies sy woorde versigtig. “Ek is gek oor ’n goeie drama,” sê hy. “Dus sal ek graag ’n eenvoudige storie wil aanpak wat ingewikkelde temas aanraak.”

Hy noem Spike Jonze se Her as die ideale voorbeeld.

Gevra wat sy vyf gunstelingflieks is, huiwer Armand nie vir ’n oomblik nie. “Ek dink die verskille in dié films som vir my die rolprentkuns op. Styl, karakters, die wêreld wat deur die regisseur geskep word, dialoog en natuurlik: spanning.”

  1. Babel
  2. Psycho
  3. Annie Hall
  4. Mad Max: Fury Road
  5. House of Flying Daggers