SY HANDTEKENING is gesog, en bewonderaars kan nie wag om saam met hom gekiek te word nie. Die paparazzi het hom deesdae in hul visier, en wanneer sy aanhangers hoor waar hy op ’n mediatoer tuis is, kampeer hulle hoopvol buite sy hotel om net ’n kykie van Copley te kry.

In Los Angeles hang hy saam met Charlize Theron uit, en by die huis wag ’n stapel draaiboeke van regisseurs wat hom asseblieftog net in hul volgende fliek wil hê – dit is deesdae die warrelwindlewe van Suid-Afrika se superkoel nuwe uitvoerproduk, Sharlto Copley.

Die ster van verlede jaar se lokettreffer District 9-faam beskou Hollywood deesdae as sy tweede huis – nie sleg vir ’n outjie van Johannesburg met nog net twee rolprente agter sy naam nie. Maar ook nie meer vir lank nie . . .

En tog bly Sharlto steeds dieselfde nederige ou wat eerder op die rusbank DVD kyk as om ’n A-lys-partytjie in die glinsterstad by te woon.

Hy drink en rook nie, gaan al ’n dekade lank met dieselfde meisie uit, weier om ’n reklameagent te kry en is bekommerd dat hy sy Suid-Afrikaanse aksent sal afleer.

“Ek is vasbeslote om nie met my aksent te peuter nie,” sê hy vir ons. Hy is op die oomblik weer in Suid-Afrika om sy tweede rolprent, die aksiefliek The A-Team, te bemark. Daarin speel hy ’n hoofrol teenoor Liam Neeson, Bradley Cooper, Jessica Biel en sy nuwe beste vriend, Quinton “Rampage” Jackson, wat saam met hom in Suid-Afrika is.

“Die Amerikaners is geneig om effens te lispel aan die einde van ’n woord – dis die enigste teken dat my aksent dalk verander. Elke nou en dan, wanneer ek agterkom ek praat ’n bietjie Amerikaans, sê ek vir myself om daarop te let.”

Sharlto (36) verdeel sy tyd tussen Los Angeles en Kaapstad en sy meisie, die model Jeanne-Melanie Haasbroek, reis saam met hom.

“Ek sal soms vir drie maande in Kaapstad wees en dan weer vir vyf in Los Angeles – dit hang baie af van hoe my loopbaan in daardie stadium ontwikkel,” sê hy. “Ek het aanvaar my lewe sal die volgende paar jaar nomadies wees en het my lekker, standvastige bestaan in Kaapstad voorlopig laat vaar.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 26 Augustus 2010