Dié nuwe akteur is Eden Classens (25) en hy is boonop al ’n gesoute loopplank- en glansbladmodel.

Eden het in Desember by Suidooster begin en kykers het in Maart met hom kennis gemaak. Hy het verlede jaar sy dramastudie by AFDA voltooi en onmiddellik die rol van Justin losgeslaan. Dit is sy eerste TV-rol.
Eden het ná skool vir drie jaar in New York gewoon waar hy ’n suksesvolle modelloopbaan begin het. In New York en Milaan het hy aan die beroemde modeweke deelgeneem. Loer net na foto’s op sy Instagram-profiel en jy sal sien hy is glad nie skaam om lyf te wys nie. En, die goeie nuus is dat Eden tans enkellopend is en sy huis met ’n worshond, Frodo, en ’n kat, Lady, deel.

Hy het nege wenke met Huisgenoot gedeel oor hoe hy sy lyf so sexy hou:

1. Ek het nie ’n lidmaatskap by ’n gimnasium nie en oefen by die huis. Ek het my gim self ingerig en pleks van maandeliks geld aan lidmaatskap bestee, koop ek eerder my eie toerusting aan.

2. Die belangrikste is om bestendig en konstant te wees – dit geld eintlik vir alles.

3. Enigiemand wat hul lyf wil regruk of net in stand wil hou, moet ’n langtermyn doelwit hê en baie geduld. Die rede is dat veranderings aan jou liggaam nie oornag gebeur nie.

4. Dit is belangrik om jou lyf te leer ken en te weet wat werk vir jou en wat nie.

5. As jy oefen en ernstig is om jou lyf reg te ruk, moet jy ten minste sewe uur slaap per nag kry.

6. Vermy alkohol. Gelukkig is ek ook nie lief vir drank nie en baie selde sal ek dalk ’n glas wyn of bier drink.

7. Ek benader nie oefening met die doel om my liggaam mooi te hou nie. Dit is eerder vir my ’n manier om my kop skoon te kry of selfs as ’n mens terneergedruk voel om weer positief te raak. As ’n mens oefen, voel jy beter oor jouself, want dit voel of jy iets bereik het. Dit doen wondere vir jou gemoed.

8. Luister veral na jou lyf. Wanneer jy regtig moeg of fisiek uitgeput is, moet jy jouself nie druk nie. Wanneer jy boodskappe van jou lyf ignoreer, gaan jy jouself net benadeel of seer maak. En wanneer jy jou lyf oorwerk, sal dit ingee. ’n Mens moet rus.

9. Tagtig persent van om jou lyf gesond te hou, gaan eintlik oor jou dieet. Let wel, elke mens is anders en jy moet weet wat jou doel is: wil jy gewig verloor, jou gewig konstant hou of gewig aansit.