NET twee jaar gelede was hy nog ’n sukkelende akteur wat sy heil in Los Angeles gaan soek het en tevrede moes wees met rolletjies in flieks wat reguit DVD-rakke toe is. Maar kyk nou vir Robert Pattinson . . .

Hy is op die lys van die 100 invloedrykste beroemdes ter wêreld, hy kan skaars straataf stap sonder om vir die paparazzi en ’n spul skreeuende vroue te moet koes, en die Britse media meen hy’s die grootste romantiese held van alle tye.

Die 24-jarige hartebreker is sy geslag se Brad Pitt– ’n vleispaleis wat kan toneel speel. En dis natuurlik alles danksy Twilight, die sage wat hom superroem besorg het nadat hy die rol van die bleek hoërskoolklong Edward Cullen losgeslaan het.

Twilight-koors het die wêreld weer eens beetgepak met die uitreiking van Eclipse, die derde rolprent in die reeks. In Los Angeles het aanhangers onder Edward Cullen-komberse geslaap op die sypaadjie buite die Stables-sentrum waar die première gehou is met die hoop dat hulle tog net ’n ietsie van Robert te sien sou kry.

Daar is werklik ’n Twilighters Anonymous, maar pleks daarvan dat dit aanhangers van hul obsessie genees, bevat die webtuiste alles wat jy oor Stephenie Meyer se boeke, die rolprente en hul sterre moet weet.

Twilight-goeters verkoop wêreldwyd soos soetkoek, veral produkte waarop Robert, oftewel Edward, pryk – enigiets van beddegoed en klere tot skryfbehoeftes en pleisters vlieg van die rakke af. En Pattinson-koors het selfs tot ’n liedjie gelei – die Walliese sanger Sarah Barry Williams se She Wants to be Mrs Robert Pattinson.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 8 Julie 2010

Op die internet:

http://eclipsethemovie.com

http://eclipsethemovie.com/worldoftwiligh

http://myspace.com/twilight

http://twitter.com/twilight

http://twitter.com/twilightfb

http://youtube.com/twilight

http://itunes.com/twilight

http://amazon.com/twilight