Amor Vittone staan op om ’n ogie te gooi oor haar kinders by ’n parkie in Fourways buite Johannesburg. Sy lyk lenig en sexy in ’n klein swart toppie, ’n denim met ontwerper-skeure en swart skoene met hoë hakke. Haar hare is ’n lang, welige boskaas vol sonstrepies.

Almal kyk na haar hier in die koffierestaurant langs die parkie waar Amor netnou aarbeie en gesmelte Lindt-sjokolade vir Jordan (6) en Kylie (4) bestel het – die mans met openlike bewondering.

“Ek kan my kinders omtrent opeet, so lief is ek vir hulle,” lag sy, terug by die tafel. Sjoe, maar sy lyk goed!

Amor glimlag, ’n 1 000 watt-glimlag. “Ek wil my swing terughê,” sê sy.

Of dit nou haar swaai of die huppel in haar stap is, een ding is seker: Amor (39) het dit klaar terug. Eintlik het sy dit nou éérs. Sy is ligjare verwyder van die vrou wat minder as ’n jaar gelede op ’n mistroostige Sondag daaraan gedink het om van ’n brug af te jaag . . .

Sy het ’n nuwe lewe en wonderlike nuwe dinge in haar lewe, van ’n spoggerige geborgde silwer Mercedes-Benz B-klas en selfoon tot dansrolle in teaters en haar eie parfuum, New Beginnings.

Dis nuwe dinge dié; vir oues is daar nie meer plek nie. Nou die dag nog wou Joost hartseer by haar weet of hulle dan regtig moet skei.

“Ek weet hy wil weer probeer. Hoekom nou skielik? Ek gaan nie terug na hom toe nie. Ek het dit vir hom gesê en hy raak kwaad daaroor. Ek het Joost baie kanse gegee om ons huwelik te red en hy het hulle verspeel.”

Sy plaas dié dinge nou agter haar en fokus op nuwes.

“Dis asof ek ’n hergeboorte beleef,” sê sy. “Ek het selfs ’n nuwe platemaatskappy, Maroela Musiek, wat my nuwe CD, oor ’n nuwe begin, gaan uitreik.”

Ná ’n jaar waarin haar en Joost van der Westhuizen se huwelik op die rotse beland het, het sy opnuut geluk gevind. So vertel sy self toe ons ’n paar dae later in ’n winkelsentrum verder gesels. Sy het haar oefenklere aan, en ’n plat, sonbruin magie steek uit. Weer verkyk die mense hulle.

Lees die volledige onderhoud in Huisgenoot, 16 Desember 2010.

Kyk ons video hieronder van ons fotosessie saam met Amor: