NIE VIR SENSITIEWE LESERS.

“Mammie, kyk my hand is weg.”

Met dié bebloede handjie en ’n vinger wat aan ’n stukkie hang het die sewejarige Kosie Wessels na sy ma, Caroline Strydom gehardloop nadat hy ’n bomklapper in sy ousus se kamer gekry en dit aan die brand gesteek het. Die klapper het in sy hand ontplof.

Caroline, wat in Polokwane woon, vertel vir Huisgenoot per telefoon vanuit die Polokwane-staatshospitaal waar Kosie behandel word, hoe hul lewens Saterdag verander het.

Elke nou en dan kan jy hoor hoe Caroline snik oor dié tragiese ding wat met haar kind, ’n leerling aan die Laerskool Piet Hugo, gebeur het.

Caroline was Saterdag besig om haar huis skoon te maak.

Sy het gedink Kosie speel iewers in die huis. Wat sy nie geweet het nie, was dat Kosie in sy suster se kamer ingeglip het. Dié kamer is gewoonlik gesluit, maar omdat Caroline huis skoongemaak het, was dit oopgelos dat sy daar ook kan skoonmaak.

Kosie het die klapper in sy suster se kamer gekry.

“Ek het net ’n helse slag gehoor,” sê Caroline.

“Toe ek weer sien kom Kosie na my toe aan gehardloop en sê ‘kyk mammie, my hand is weg’.

“Ek het my hemp uitgetrek en dit om sy hand gedraai. Ek het in die straat gehardloop en geskree ‘help, help’.

“ ’n Vreemde man het stilgehou. Ek het hom gevra of hy nie met my en my kind kan hospitaal toe jaag nie. My kind het seergekry. Hy het ons in die motor ingelaai en met noodligte en toeter na die hospitaal toe gevat.”

By die hospitaal het dokters vir Caroline die slegte nuus gegee dat Kosie se linkerhand geamputeer moet word. Nie eens die een vinger wat nog aan ’n stukkie vlees gehang het, kon gered word nie.

Caroline sê Kosie het die klapper met sy linkerhand vasgehou en dit met die regterhand aangesteek. Dit is toe wat die klapper in sy linkerhand ontplof. Kosie het ook brandmerke oral op sy lyf en arms opgedoen.

“Sy hele lyfie is gebrand,” sê Caroline.

“Hy het soveel pyn en huil die heeltyd. Hy sal vir my sê ‘mamma, ek het seer’.

“Hy wil nie hê die dokters moet die verbande afhaal nie, want hy wil nie sy handjie sien nie. Hy het my gevra of Liewe Jesus vir hom ’n ander handjie gaan gee.”

Sedert Saterdag kan Caroline nie slaap nie.

“Elke keer as ek my oë toemaak, sien ek die hand wat weg is en die vleis en die weefsel.”

By die hospitaal word Caroline nie toegelaat om by Kosie te oornag nie.

Sy sê dit was vir haar verskriklik om huis toe te gaan. Sy kon nie die voorhuis, waar die klapper in Kosie se hand ontplof het, skoonmaak nie.

Haar swaer het haar kon help.

“Hy het my vertel hoe hy die vleis teen die plafon, die mure, die vensters en die gordyne moes afkrap.

“My arme kind.

“By die hospitaal sê hulle Kosie moet gewoond raak aan die lewe met net een hand en om alles met net een hand te doen. Maar hoe doen hy dit? Hy is net sewe jaar oud.”

Caroline is ’n enkelouer en het nie mediese fonds nie.