’n Sewejarige seuntjie van Plymouth in Engeland het ’n hartverskeurende briefie aan sy familie en vriende geskryf kort voordat hy verlede week aan ’n seldsame siekte oorlede is.

Marshall se normale kinderlewe is tot stilstand geruk toe hy drie jaar gelede gediagnoseer is met Batten se siekte, ’n toestand wat die sentrale senuweestelsel affekteer.

Hy was vir tien maande bedlêend voor sy dood enkele dae voor sy agtste verjaarsdag. In hierdie tyd het Marshall sy sig, beweeglikheid en spraak verloor.

Kort na sy dood het sy familie sy hartseer laaste briefie aan sy vriende en geliefdes op sy ouma se blog gedeel. “Hy is nou in die hemel,” skryf sy familie saam met die briefie. “Hierdie was sy hel en nou is hy daarvan bevry.”

“Liefste vriende,” begin Marshall se laaste briefie. “Teen die tyd dat julle hier lees, sal ek in die hemel wees.

“En dis okay, want ouma het my vertel van al die wonderlike goed wat ek sal kan doen wanneer ek daar is.”

Vanweë sy siektetoestand was Marshall vasgekeer in sy liggaam. Hy het boonop gereeld stuipe gekry en kon ook nie meer self eet nie.

Hy het stadig voor sy familie weggekwyn.

Marshall se ouma, ’n opgeleide verpleegster, het gehelp om na hom om te sien.

“Sy vasbeslotenheid en vrolikheid onder moeilike omstandighede het my verstom gelaat,” het sy volgens Mail Online gesê.

Marshall skryf voorts in sy briefie dat hy uitsien na die hemel, want hy sal daar weer kan baljaar en aarbeie en kolwyntjies geniet, nes enige normale kind van sy ouderdom.

“Ek was bekommerd dat ek my geliefdes gaan mis, maar my ouma het my vertel die liefde tussen ons is so sterk dat dit gaan voel asof hulle daar saam met my is.”

Sy ouma vertel Marshall het, ten spyte van sy siekte, nooit gekla, gehuil of opgegee nie. “Selfs toe hy nie kon beweeg nie, het hy aanhou glimlag.”

In sy laaste briefie vertel die jong seun ook hoe hy dit geniet het om na sy ouma se stem te luister terwyl sy boodkappe wat sy vriende aan hom geskryf het, hardop gelees het.

“Julle was saam met my, lief vir my en het my deur alles ondersteun. Ek wil vir julle uit die diepte van my hart dankie sê.

“Maar nou moet ek groet.”

Bronne: SWNS.com; Mail Online