Die Suid-Afrikaanse swemsensasie Chad Le Clos het Dinsdagaaand ‘n rekordgetal van sewe medaljes in die Glasgow-Statebondspele losgeswem.

Met nog twee brons medaljes (een vir die 200m-individuele wisselslag en een vir die 4x100m wisselslag aflos) op die laaste aand van die swembyeenkoms, het Chad hom by die Australiese legende Ian Thorpe aangesluit. Ian is die enigste ander persoon wat ook sewe medaljes by een spele kon wen – in 2002 by die Manchester-Spele

Die 22-jarige Chad het sy vierde individuele medalje in die individuele wisselslag gekry, nadat hy aanvanklik voorgeloop het. Die wenner was Daniel Tranter van Australië (1:57.83), met die Skot Daniel Wallace in die tweede plek (1:58.72) en Chad in die derde plek met ‘n tyd van 1:58.85.

In die 4x100m wisselslagaflos het Chad saam met die ander Suid-Afrikaners Cameron van der Burgh, Sebastien Rousseau en Leith Shankland genoeg gedoen vir nog ‘n brons medalje – en Suid-Afrika se 12de swemmedalje by die Spele.

Chad se ander medaljes was: 100m vlinderslag (goud), 200m vlinderslag (goud), 50 m vlinderslag (brons),  4x 100m-aflos (silwer) en 4x200m-aflos (brons).

Sapa