Hierdie satellietbeeld wys ’n kaart van die gebiede wat tussen 18 en 20 Maart deursoek is vir die vermiste Maleisiese Vlug MH370.

Daar bestaan talle teorieë oor die verdwyning van die Malaysia Airlines-vlug MH370 bykans twee weke gelede.

Party is aanvaarbaar en party gewoonweg absurd. Daar is ongelukkig steeds geen duidelike antwoord nie terwyl die families van die 239 passasiers en bemanningslede, en die res van die wêreld, angstig wag. Selfs die logiesste veronderstelling oor wat met die 64 m lange Boeing 777 gebeur het, het leemtes. Geen scenario los die raaisel op nie.

Ons kyk na van die geloofwaardigste teorieë en hul tekortkominge.

Kwaadwillige optrede deur vlieënier

Die ondersoekers kyk na die geskiedenis van kapt. Zaharie Ahmad Shah (53), wat sedert 1981 vir Malaysia Airlines vlieg, en sy medevlieënier, Fariq Abdul Hamid (27), wat pas met ’n 777 begin vlieg het. Zaharie het sy eie vlugnabootser by die huis gebou – wat ongewoon is, maar nie buite die norm nie. Baie vlieggeesdriftiges het soortgelyke hulpmiddels – ’n vlugkelner van Los Angeles het ’n Pan Am-eersteklaskajuit in sy motorhuis geskep. Die ondersoekers probeer nou lêers herstel wat van die nabootser af uitgevee is.

Hoekom is die vlieëniers onder verdenking?

Die vliegtuig se antwoordsender het op die volmaakte oomblik opgehou om sy ligging aan lugverkeerbeheerders en ander vliegtuie te versend: met die oorgawe van Maleisië se beheerders na dié in Viëtnam. In die laaste radiokontak van die vliegtuig af het die medevlieënier vir die Maleisiese beheerders gesê: “Alles reg, goeie nag.” Die Viëtnamese beheerders is nooit gekontak nie en die antwoordsender is afgeskakel. Die vliegtuig het skielik gedraai en toe tot sewe uur lank aanhou vlieg.

Die manier waarop verskeie belangrike kommunikasie- en opsporingstoestelle in die kajuit buite werking gestel is – op verskillende tye – wek ook agterdog oor die vlieëniers.

Die idee dat vlieëniers ’n vliegtuig gebruik om hul lewe te neem en massamoord te pleeg, is vreesaanjaend en taboe in die bedryf, maar nie ongehoord nie. ’n SilkAir-ongeluk in 1997 en ’n EgyptAir ongeluk in 1999 was vermoedelik albei die gevolg van opsetlike optrede deur vlieëniers.

Kaping deur terroriste

Hierdie teorie was aanvanklik prominent nadat ontdek is twee Iraniërs aan boord – die een 18, die ander 28 – reis met gesteelde paspoorte. Die ondersoekers het niks gevind wat enigeen van hulle aan terreurgroepe verbind nie. Hulle het vermoedelik onwettig na Europa probeer emigreer.

Sedert 9/11 is dit veel moeiliker vir ’n ongemagtigde mens om die stuurkajuit binne te gaan. Die kajuitdeure is versterk en prosedures ingestel om te sorg dat niemand toegang kry wanneer ’n vlieënier uitgaan nie. En passasiers en bemanningslede het al ’n bereidheid getoon om enigiemand te konfronteer wat ’n vliegtuig probeer oorneem of beskadig.

Is iemand moontlik in die stuurkajuit toegelaat?

Dit is strydig met protokol, maar gebeur wel. In 2011 het vlug 370 se medevlieënier en nog ’n vlieënier twee vroue aan boord van hul vliegtuig genooi om vir ’n internasionale vlug in die kajuit te sit. Tydens die vlug het die vlieëniers gerook en flikkers gegooi, het een van die vroue dié maand gesê.

Maar geen geloofwaardige groep het verantwoordelikheid vir die verdwyning aanvaar nie en intelligensie-agentskappe sê hulle het geen gesprekke oor die straler in terreurkringe opgemerk nie.

Skielike katastrofe

Lugvaartkenners het eers vermoed iets skieliks en grusaams het gebeur – dalk ’n bom aan boord of die een of ander probleem met die enjins of vliegtuigromp. Maar as dit die geval was, sou wrakstukke gevind kon word op die plek waar die antwoordsender afgegaan het. Boonop was daar nog net een noodlottige ongeluk in die Boeing 777 se geskiedenis van 19 jaar – verlede jaar se Asiana Airlines-ongeluk in San Francisco. In die geval van ’n skielike verbrokkeling sou stukke van die vliegtuig op radar sigbaar gewees het.

Brand

’n Elektriese brand, of dalk ’n brand weens gevaarlike vrag, kon kommunikasietoerusting laat afgaan het en verhoed het dat bemanningslede en passasiers hulp vra. Party mense bespiegel dat rook die vlieëniers buite aksie gestel het. Dit is moontlik, maar die vlugkelners en passasiers sou tyd gehad het om by die stuurkajuit te probeer ingaan en beheer oor die vliegtuig te neem.

Dekompressie

’n Stadige of skielike drukverligting, wat ’n verlies aan suurstof veroorsaak, kon almal aan boord laat sterf het. Maar as die suurstofvlakke gedaal het, sou ’n harde, geoutomatiseerde waarskuwing die vlieëniers aangesê het om hul suurstofmaskers aan te sit en dadelik tot benede 10 000 voet te daal, waar daar genoeg suurstof is om sonder hulp asem te haal.

Sou die vliegtuig kajuitdruk verloor en die insittendes gesterf het, soos in 1999 op die gholfspeler Payne Stewart se sakestraler gebeur het, sou dit die bemanningslede en passasiers se stilte verklaar het. Maar lugvaartkenners sê in daardie geval sou die vliegtuig outomaties na Beijing voortgevlieg het en op die radar sigbaar gewees het.

Versteekte vliegtuig

Dit is moontlik dat iemand die vliegtuig op die een of ander afgeleë lughawe laat land het en vir die wêreld wegsteek. Dalk wil hulle die passasiers gyselaar hou, al het niemand nog verantwoordelikheid aanvaar of ’n losprys geëis nie. Dalk was daar iets waardevols in die vragruim en was dit ’n rooftog. Dalk het terroriste die vliegtuig en wil hulle dit vol stralerbrandstof en plofstof laai om in die toekoms as ’n missiel te gebruik.

Hierdie scenario’s het almal leemtes. ’n Baie ervare vlieënier sou die vliegtuig moes laat neerstryk op ’n klein lughawe wat nie gewoonlik 777’s akkommodeer nie. Hulle moes dalk in die donker en sonder normale navigasiehulp land. En hulle sou verskeie lande se radarstelsels moes ontwyk het, hoewel party al aangevoer het die vliegtuig het skelmpies in ’n ander straler se skadu gevlieg.

Maar dit is moeilik om enigiets uit te skakel. Dit het Thailand se regering 10 dae geneem om te erken hulle het iets op hul radar gesien wat moontlik vlug 370 was. Regerings wil nie noodwendig al hul inligting deel nie, veral wat hul militêre radarvermoëns betref.

Maar hoekom al die moeite doen om ’n kommersiële vliegtuig te steel? ’n Vragvliegtuig sou baie makliker gewees het om te steel.

Onbedoelde neerskiet

Burgerlike vliegtuie is al onopsetlik deur ’n land se weermag neergeskiet. In Julie 1988 het die Amerikaanse vloot se missielvaartuig USS Vincennes per ongeluk ’n Iran Air-vlug neergeskiet en al 290 passasiers en bemanningslede se dood veroorsaak. In September 1983 het ’n Russiese vegvliegtuig ’n Korean Airlines-vlug neergeskiet. Daar is egter geen bewyse dat ’n regeringsinstelling vlug 370 neergeskiet het nie.

Bron: Sapa-AP/kn