Twee boeties, 5 en 9 jaar oud, was ure lank alleen by hul ma se lyk in ’n landgoed in Lonehill, Randburg nadat sy Woensdag met ’n mes doodgesteek is.

Die slagoffer se naam kan nie nou bekendgemaak word nie, het kaptein Makgowanyana Maja van die Randburg-polisie aan Huisgenoot gesê. Volgens hom is haar hele familie nog nie in kennis gestel nie.

’n Buurman in die spoggerige Silver Birch-landgoed het egter aan Huisgenoot gesê dat die vrou se man ’n dokter is. “Ons ken hulle baie goed; ons is baie geskok.”

Maja wou nie bevestig of daar ’n verdagte is nie. Maar Nandi Mayathula-Khoza, LUR van Sosiale Ontwikkeling in Gauteng, het in ’n verklaring gesê die vrou is vermoedelik deur haar huishulp gesteek nadat hulle stry gekry het. Die huishulp, glo ’n Zimbabwiese burger, het toe die hasepad gekies.

Mayathula-Khoza het ook bevestig dat die boeties albei berading van maatskaplike werkers gekry het.

Met ons besoek aan die landgoed het nog ’n huiswerker beweer die vermeende verdagte was onwettig in die land.

Die 42-jarige vrou se lyk is in die oprit van hul woonplek veiligheidskompleks in Scealesweg gekry. Sy is verskeie kere gesteek. Volgens Mayathula-Khoza was die boeties in die huis toe hul ma vermoor is.

Hulle is tans in die sorg van hul pa en die LUR het die polisie verdsoek om “kindervriendelike ondersoektegnieke” te gebruik.