Vier spesialiste, wat aangekla word van strafbare manslag nadat ’n tweejarige seuntjie ná ’n mangeloperasie dood is, se verhoor sal in Januarie 2015 begin.

Klein Jaundré Bennett (2) is op Vrydagoggend 4 Mei 2012 oorlede nadat sy mangels die vorige dag in Vereeniging se Mediclinic verwyder is.

Dr. Pite Bresler (die oor-neus-en-keel-spesialis), dr. Deon Kotzé (die narkotiseur), Matthew Tabiri (die pediater) en dr. Abrar-Ul-Hasnain Syed Fatmi (’n neurochirurg) het gister in die streekhof in Vereeniging verskyn.

Hul saak is verskuif na die rondgaande hooggeregshof in Delmas, waar hulle van 26 tot 30 Januarie en 2 tot 6 Maart verhoor sal word.

Dié datums is ’n groot mylpaal vir Jaundré se grootouers Alida en Michael Bennett, wat die dag van Jaundré se dood besef het iets groots het in daardie teater verkeerd geloop.

Hulle het saam met Jaundré se ander grootouers, Johan en Maria Bosch, die ondersoek in eie hande geneem en derduisende kilometers gery, honderde mense gesien, ure in dokters, professore en kenners se kantore en spreekkamers gewag, ure deur dokumente gegaan en derduisende rande op verslae bestee. Eindelik het die antwoord gekom: Jaundré is dood weens ’n oordosis narkose.

’n Ander groot mylpaal vir Alida en Michael is die koms van hul eerste kleindogter. Jaundré se ma, Geraldine, het sedert sy dood gesukkel om swanger te word. Kort nadat die spesialiste in Januarie vanjaar die eerste keer in die hof verskyn het, het sy swanger geword. Klein Jessica sal na verwagting in November vanjaar haar opwagting maak.

- Hilda Fourie