Isiah Francis (10) en Jeremiah Grimes (11) van Florida het buite gespeel toe hulle rook by ’n mobiele huis sien uitborrel. Die eienaar was buite besig om water op die vuur te gooi toe Isiah skielik onthou ’n hele paar klein kinders woon daar. Die jong seun, wat nog altyd ’n brandweerman wou word, het saam met sy vriend Jeremiah by die brandende huis ingehardloop. “Ek was bang, want ek het gedink ek gaan seerkry. Ek was op my senuwees, want die rook was so dik dat ek byna niks kon sien nie,” het Isiah aan Click Orlando vertel.

Die seuns het ’n eenjarige en agt maande oue kind in die brandende huis gevind, hulle buitentoe gedra en toe die noodnommer 911 gebel.

Toe die brandweermanne opdaag, het hulle na bewering ontdek twee kinders van onderskeidelik twee en vyf jaar oud is steeds in die huis vasgekeer. Isiah sê hy wil steeds by die brandweer gaan werk. “Al moet ek al hierdie harde werk doen, wil ek nog een word.” Volgens die ondersoekers is die brand waarskynlik deur ’n stoof veroorsaak. Hulle is ook van plan om uit te vind hoekom die eienaar van die huis nie die kinders gehelp het toe die brand ontstaan het nie.

video platformvideo managementvideo solutionsvideo player

Bronne: clickorlando.com, nydailynews.com