NIE so lank gelede nie was sy nog ’n pragtige kleuter met pienk wange, ’n bos blonde hare en ’n kas vol oulike rokkies. Sy het selde die huis verlaat sonder ’n pop of ’n speelgoeddiertjie in haar arms en is alom beskou as die kamera se liefling onder Hollywood se kleingoed.

Maar nou, net ’n paar jaar later, is rokkies die laaste goed wat sy wil dra en haar poppe en speelgoeddiertjies lê vergete onder in die speelgoedkas. Die lang, blonde lokke het lankal verdwyn, nes enigiets fyns, fraais of meisierigs aan Shiloh Nouvelle Jolie-Pitt. En soos hierdie foto’s van haar langs ’n swembad in Kalifornië wys, lyk dit glad nie of die rabbedoefase aan die oorwaai is nie; inteendeel, dit raak ál erger.

Shiloh trek al maande lank ál meer soos haar broers, Maddox (9) en Pax (7), aan en ál minder soos haar aangenome suster, Zahara (5). Dié is dol oor vloeiende rompe, swembroeke vol bandjies en stylvolle rokke. Shiloh en haar babasussie Vivienne (2) aard ook glad nie na mekaar nie. Angie vertel Viv is ’n regte “meisierige meisie” en het al gaatjies in haar ore laat maak, terwyl Shiloh oor haar dooie liggaam oorringe sal dra.

Shiloh is dol oor alles wat seunsagtig is: kort hare, armmanspette, langbroeke, onderbaadjies en selfs ’n swaard as bykomstigheid. Haar idee van optof is ’n baadjie en das, kompleet met ’n hardebolkeil.

Haar ma het selfs nou vir haar ’n rookbaadjie laat maak met ’n plastieksigaar daarby nadat sy op pa Brad Pitt s’n verlief geraak het. Verder dring Shiloh daarop aan dat almal haar Peter noem na Peter Pan, of John, een van Peter se verlore seuns. Noem jy haar Shiloh, hou sy haar doof.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 2 September 2010