’n Seun van Uganda is dood enkele weke nadat hy suksesvolle operasies ondergaan het om ’n gewas so groot soos ’n sokkerbal van sy gesig te laat verwyder.

[caption id="attachment_160761" align="alignnone" width="600"]Foto: Channel 5 Foto: Channel 5[/caption]

Erick Rwabirire (17) het na Londen gereis om die lewensgevaarlike operasies te ondergaan om die gewas te verwyder en sy gesig te herbou.

Maar toe hy terugkeer na sy vaderland het die gewas weer begin groei – en vinnig. Kort daarna is Erick in sy slaap oorlede.

Die plattelandse seun is met ’n seldsame beensiekte gebore. Toe hy drie was, het ’n reusegewas oor sy hele gesig begin groei. Sy ma is oorlede toe hy jonk was.

Soos Erick ouer geword het, het die gewas groter geword. Later het hy gesukkel om asem te haal; saans moes hy met sy vinger in sy mond slaap sodat hy behoorlik kon asem kry. Die gewas het ook oor die jare sy mond en kakebeen verwoes.

Weens ’n gespot het Erick se pa hom later uit die skool gehaal.

Hoewel dokters hom gewaarsku het ’n operasie om die gewas te verwyder sou waarskynlik noodlottig wees, het Erick tog in 2015 na Londen gereis.

By die Crowell-hospitaal in die Britse hoofstad het dokters die moontlike komplikasies verduidelik.

[caption id="attachment_160764" align="alignnone" width="600"]Foto: Channel 5 Foto: Skermgreep uit Channel 5-dokumentêr.[/caption]

Erick was nege maande sonder sy pa in Londen terwyl hy talle operasies ondergaan het, maar alles was onsuksesvol.

Tog is Erick nie van stryk gebring nie. Hy het aanhou probeer en eindelik het die plastiese chirurge Simon Eccles en Niall Kirkpatrick daarin geslaag om die gewas tydens ’n operasie van 12 uur te verwyder.

Omdat Erick se bloeddruk toe erg gedaal het, kon hulle nie ook sy gesig begin herbou nie.

Nietemin was die jong man bly oor die vordering. Mediese personeel het hom “Bebe Cool” (na ’n Ugandese musikant) genoem.

[caption id="attachment_160763" align="alignnone" width="600"]Foto: Channel 5 Foto: Skermgreep uit Channel 5-dokumentêr[/caption]

Nie lank daarna nie het Simon en Niall Erick se gesig suksesvol herbou. Hulle het ’n deel van sy skedel gebruik om vir hom ’n nuwe kakebeen te skep.

In ’n dokumentêr oor Erick wat op die Britse kanaal Channel 5 uitgesaai is, kan gesien word hoe die Ugandees uit sy maag uit lag van blydskap nadat die operasie suksesvol afgehandel is.

Maar dit was alles van korte duur.

Enkele weke nadat hy teruggekeer het na Uganda het die gewas weer begin groei. Gou het die dokters bepaal dis kwaadaardig.

Vier dae later is die spontane, gelukkige Erick in sy slaap oorlede. ’n Tragiese einde vir wat ’n baie gelukkige storie moes wees.

Bronne: Mirror Online, MailOnline, thesun.co.uk, facingtheworld.net , Channel 5.