Feestyd bly ’n spesiale tyd. Dis gewoonlik ook die tyd wanneer vriende en familie gesellig bymekaar kom. Maar dis nie vir almal beskore nie. Soos duidelik blyk uit ’n verlore hartseer briefie wat ’n seun in Engeland aan sy oorlede pa geskryf het. Die briefie is vroeg in Desember deur Stuart McColl naby Dunfermline, Fife, gevind. Dit was vasgemaak aan ’n blou heliumballon wat intussen pap geword het. Die briefie, ryklik met hartjies versier, is ewe oulik in vier afdelings verdeel: Hy groet sy pa, vertel hom van sy nuus en volg dit op met sy drome en sy Kersfeeswenslysie. Ongelukkig is dit bloot aan "Dad" gerig en afgesluit met ’n boodskap van liefde aan sy pa.

Hier is die inhoud van sy brief vryelik vertaal

"Hallo pa, ek skryf net 'n brief om jou te vertel dat ek jou mis en my nuus te vertel!

"Ek is seker jy weet dat ek in pleegsorg is (met 'n hartseer gesiggie langsaan geteken). Ma is siek en my oor het Maandag reeds toegeslaan. Môre gaan ons weg (ook met 'n hartseer gesiggie beklemtoon).

"Ek mis regtig skool en vir jou. Ek weet jy's bo in die hemel maar is jy veilig?

"O ja, voor ek gaan: hier's my droom en Kersfeeswenslys.

"My droom"

My droom is dat jy, my pa, vir my 'n nota wat jy geskryf het, onder my kussing kan los."

"My Kersfeeslys"

"Stewels/soolknoppe ("studs"), Astros (sokkerstewels), terugbons-net, 'n nuwe Premier Liga-bal, Real Madrid-uniform.

"Totsiens pa, ek is lief vir jou."

En dan teken hy pyltjies onder sy groetboodskap om te wys dat hy dit op 1 Desember 2016 geskryf het.

Stuart, ’n fotograaf van Cupar, Fife, het gesê die briefie is net te hartseer om te ignoreer.

"Ek het nog nooit vantevore so iets gedoen nie, maar dis 'n tragiese storie en dit sal wonderlik wees om iets te doen om iemand te help wat deur so 'n moeilike tyd gaan," het hy aan die Britse nuuswebtuiste Metro gesê.

Stuart is nou desperaat om die briefskrywertjie op te spoor sodat hy vir hom al die geskenke kan koop wat op sy wenslysie is. Talle mense het ook reeds aangebied om te help met die aankoop daarvan.

Bronne: metro.co.uk, bournemouthecho.co.uk