Upington –

Die seun is Sondagaand in Askham gepik.

Volgens Dane Elliott, die paramedikus van ER24 wat na die seun omgesien het, sou dit die ouers twee uur geneem het om by die hospitaal te kom.

“Dit is baie gevaarlik om deur ’n slang gepik te word in die gebied waar hy was, want dit is ver van mediese sorg af,” sê hy.

Die ER24-woordvoerder Chitra Bodasing sê die seun is aan die onderkant van sy linkerbeen gepik en “het tekens getoon dat die gif sy senustelsel aantas”.

“Ons kan nie sê watter slang hom gepik het nie. Die gesin het uit die gebied gery waar die voorval plaasgevind het en die paramedici ontmoet wat die kind toe ondersoek het,” sê sy.

Hy is na die Mediclinic Upington geneem vir verdere mediese sorg en sy ma het geweier om kommentaar te lewer.

Intussen is ’n agtjarige seun van KwaZulu-Natal ook deur ’n slang gepik terwyl hy Sondag vee opgepas het.

Bron: News24