En nadat hy oplaas by die regte kundige uitgekom het, moes Adam McCalmont en sy gesin die verpletterende nuus hoor: Die lewenslustige tiener het ’n seldsame, aggressiewe soort kanker. Sy jong lewe was in die weegskaal.

Maar met sy kenmerkende positiewe ingesteldheid en die liefdevolle steun van familie en vriende het die 16-jarige met ’n inspirerende terugvegpoging begin. En ná ingrypende behandeling, insluitend ’n marathon-operasie waarin chirurge ’n groot gewas verwyder en sy kaak met weefsel en been uit sy onderbeen herbou het, is Adam-hulle nou weer hoopvol.

“Vergeleke met waarop ons ons voorberei het, vaar hy regtig goed,” het Adam se ma, Elaine Patrick van Coleraine in Noord-Ierland, vertel. “Ons het wel ná die operasie ’n paar terugslae beleef. Hy het so goed gevaar, maar toe begin sy gesig en nek skielik weer swel; ’n infeksie het opgebou en toe in ’n wond agter sy oor oopgebars.

“Ek’s seker elke gesin met ’n kind met kanker wonder soms waarom dit met hul kind gebeur. Maar ’n mens moet net opstaan en voortgaan. En ek het my krag van Adam self gekry.”

Adam, “’n gawe, sorgsame seun” volgens ’n hegte gesinsvriend wat met ’n aanlyn veldtog teen sy rare soort kanker help, het laas Desember begin sukkel met ’n knaende pyn in sy kaak.

Mettertyd het dit hom uit die slaap begin hou. ’n Huisdokter het aanvanklik pynstillers en antibiotika voorgeskryf. Toe Adam se gesig skielik een nag geweldig swel, het die dokter voorgestel hy spreek ’n tandarts. Dié kon nie dadelik vasstel wat skort nie, maar het bevestig dit was nie ’n probleem met sy tande nie.

Die seun is terug na die dokter, wat hom toe vir X-strale na ’n hospitaal verwys het. “Intussen het dit gelyk asof die gewas sy gesig oorneem,” vertel Elaine.

Die X-strale het helaas nie dadelik by ’n toepaslike spesialis uitgekom nie. Maar gelukkig het die tandarts ’n toe reeds diep bekommerde Elaine help seker maak ’n kenner by Ulster-hospitaal se maksillofasiale eenheid bekyk Adam se geval sonder versuim.

Gewas so groot soos ’n lemoen!

Dié het hulle binne ure in sy spreekkamer gehad: ’n seldsame kwaadaardige vorm van sarkoom wat in die kraakbeen begin, was die ontstellende diagnose. Adam se soort kanker het net ongeveer 1 persent van alle sarkoomgevalle verteenwoordig.

Die gewas, omtrent so groot soos ’n lemoen, het boonop sy kopslagaar omring en was teenaan die hoofsenuwee wat sy gesigbewegings beheer. Weens die ligging was die dokters baie bekommerd dat ’n operasie tot verlamming en selfs Adam se dood kon lei, maar ingryping het lewensnoodsaaklik geraak.

Amper 20 uur onder die mes

Gelukkig het ses rondes chemoterapie oor verskeie maande die gewas soveel laat krimp dat die chirurge gevoel het hulle kon met groter veiligheid opereer. Weke gelede is Adam teater toe.

In ’n operasie van 19 en ’n half uur het die span meer as die helfte van sy kaak, insluitend kliere, verwyder, en onder meer afgetakelde spiere en bloedvate in sy gesig met weefsel uit sy een been vervang.

Voor die operasie het Adam in ’n stadium soveel pyn verduur dat hy geen eetlus gehad het nie en hy het baie maer geword. Met sy nuwe kaak sal hy nog minstens ses weke lank glad nie kan kou nie. Maar hy het reeds gewig begin aansit, al is hy nie beïndruk met sy dieet van “babakos” en vloeistowwe nie, vertel sy ma.

Hy sukkel ook nog om die linkerkant van sy gesig te beweeg, maar almal is hoopvol oor sy kans op herstel.

Elaine en haar gesin was, ironies genoeg, al voor dié beproewing nou betrokke by hulpprojekte vir kankerlyers; haar dogters het byvoorbeeld hul hare afgeskeer om dit te skenk aan kinders wat chemoterapie ondergaan. En nou wil hulle uit dankbaarheid oor Adam se vordering ook groter bewustheid help skep oor die gevare van sarkoom.

Bronne: sarcomahelp.org, Facebook, justgiving.com, mirror.co.uk