’n Vyfjarige Britse seun met ’n breingewas wat sonder toestemming uit die hospitaal verwyder is, is in ’n stabiele toestand in Spanje, het hospitaalpersoneel Sondag gesê.

Die seun se ouers is Saterdagoggend ná ’n internasionale soektog in die suide van Spanje in hegtenis geneem.

Brett King (51) en Naghemeh King (45) gaan Maandag in Madrid voor ’n regter verskyn, het ’n bron aan AFP gesê.

Intussen is hul seun Ashya blykbaar in ’n “stabiele toestand en onder polisiebewaking” in die pediatriese-onkologiedepartement by ’n universiteitshospitaal in Málaga, het ’n woordvoerder vir die hospitaal Sondag aan AFP gesê.

’n Polisiewoordvoerder het vroeër gesê “die kind ontvang hospitaalsorg en die ouers is in aanhouding”, en het bygevoeg die paartjie se vyf ander kinders is in ’n onbekende plek en volwassenes om hulle versorg hulle.

Ashya King is Donderdag van ’n hospitaal in Southampton in die suide van Engeland verwyder, wat ’n onmiddellike soektog na die seun se ouers veroorsaak het.

Interpol het Vrydag ’n wêreldwye kennisgewing na sy 190 lidlande uitgestuur, wat die soektog dramaties verbreed het.

Die ouers is eindelik opgespoor by ’n gastehuis genaamd Hostal Esperanza aan die Costa del Sol, sowat 30 km van Málaga in die suide van Spanje. ’n Werknemer het hulle herken en aangemeld.

“My kollega het die polisie in kennis gestel,” het ’n werknemer AFP per telefoon vertel. “Sy het hulle in ’n aanlyn koerant gesien.”

Die owerheid in Brittanje, Frankryk en Spanje was in ’n wedloop teen die tyd gewikkel om Ashya op te spoor. Hy het net ’n week gelede ’n operasie ondergaan en word deur ’n buis gevoer en is aan ’n masjien gekoppel, wat mense laat vrees het dat die batterye kan opraak.

Ashya se pa, Brett, het Saterdag in ’n aanlyn video verskyn waarin hy vrese oor sy kind se gesondheid probeer besweer het.

“Soos julle kan sien is daar niks fout met hom nie,” het hy Saterdag in die YouTube-video gesê, wat deur een van die ander kinders opgelaai is.

“Sedert ons hom uit die hospitaal gehaal het, is hy baie gelukkig; hy glimlag baie meer.”

Die video wys hoe Ashya op sy pa se skoot sit en aan die voedingsmasjien gekoppel is.

Brett sê hy het sy seun uit die hospitaal gehaal omdat hy ongelukkig was met die sorg wat Ashya ontvang het en ander behandelings oorsee wou soek wat die Britse openbare gesondheidstelsel nie bied nie.

Hy verduidelik nie in die video hoekom die gesin Spanje toe is nie, maar die polisie het vroeër genoem hulle het “sterk bande” met die gebied.

“Daar is nie wenners in dié situasie nie. Ek het heeltyd gesê dit moet ’n verskriklik ontstellende tyd vir Ashya se gesib wees en ek staan nou daarby,” het Chris Shead van Brittanje se Hampshire-polisie gesê.

Hy het gesê die inhegtenisneming is op “verwaarlosing gebaseer maar het bygevoeg: “Dit beteken nie noodwendig hulle gaan daarvan aangekla word nie. “Dit gee ons net die mag om hulle in hegtenis te neem sodat ons met hulle kan praat.” Ashya se ouers, wat Jehovah se Getuies is, is op ’n veerboot op pad Cherbourg, Frankryk, gesien nadat hulle die seun gevat het.

'Moet hulle asseblief nie oordeel nie.'

Op die Hampshire-polisie se Facebook-blad het ene Katie Fletcher geskryf: “Dit is my ma se vriendin. Sy het in desperaatheid weggehardloop omdat hulle nie kan aanvaar daar kan niks vir hul seun gedoen word nie. Hulle soek nou oorsee hulp.

“Moet hulle asseblief nie oordeel nie; hulle is ’n liefdevolle gesin en ek glo hulle doen dit net omdat hulle Ashya wil help.”

Die seun se ouma aan vaderskant, Patricia King, het haar seun en skoondogter as wonderlike ouers beskryf.

Bron: Elodie Cuzin/Sapa-AFP