’n Agtjarige Amerikaanse seun vertel hy wil ’n voetbal gooi, op ’n klimraam klouter en sy babasussie vashou nadat hy die eerste kind ter wêreld geword het wat ’n dubbele handoorplanting ondergaan het.

Zion Harvey het die ingewikkelde11 uur lange operasie vroeër vandeesmaand ondergaan en Dinsdag die dokters bedank dat hulle hom gehelp het op sy “stamperige pad”.

’n Chirurgiese span van 40 mense het Zion se nuwe handbene met staalskroewe en -plate aan hom verbind voor hulle die spiere, senuwees, tendons, are en slagare geheg het.

Al lê verskeie weke van fisioterapie vir hom voor, sal hy binnekort die fyn handvaardigheid hê om “kleiner voorwerpe soos Cheerios en Lego’s” op te tel.

Die aktiewe seun se hande en voete is afgesit toe hy as kleuter ’n ernstige bakteriële infeksie opgedoen het. Maar met behulp van kunsbene kan die skoolseun net soos sy maats stap, hardloop en spring.

Hy het met sy voorarms leer skryf en kon reeds self eet en videospeletjies speel voor die oorplanting by die kinderhospitaal van Philadelphia, Amerika.

Zion sal die res van sy lewe medisyne moet drink wat sy immuunstelsel onderdruk sodat sy liggaam nie die nuwe ledemate verwerp nie.

Die dokters het gemeen hy is ’n ideale kandidaat vir die operasie, want hy het reeds teenverwerpingsmedisyne gedrink nadat hy voorheen ’n nieroorplanting ondergaan het.

Bronne: The Independent, E! Online, News.com.au