Hul seun is die hoofverdagte.

Die boodskap wat in die slagoffer se bloed op die vloer geskryf is, het gelui: “Moeg van haar, vang my en hang my” en is met ’n glimlaggende gesiggie onderteken.

Dyaneshwar Ganore, ’n speurder, het op sy vrou, Deepali Ganore, se liggaam by hul huis in Moembaai aan die weskus van Indië afgekom.

Dyaneshwar, wat bekend is vir sy ondersoeke van hoëprofiel-moorde in die stad, het pas klaar gewerk toe hy op die gru-toneel tuis afkom.

Die paartjie se seun, Siddhant Ganore, was vermis maar is intussen in Jodhpur in die noordwestelike staat van Rajasthan, vasgetrek en is op pad terug na Moembaai in die polisie se bewaring.

Die paartjie se seun, Siddhant Ganore. Foto: Magazine Features

’n Span van drie polisiebeamptes is na Jaipoer, sowat 1126 km ver, gestuur om hom vas te trek.

Met hul aankoms in Jaipoer, het hulle ontdek hy’t reeds na Jodhpur, sowat 320 km wes, vertrek.

“Toe ons span in Jaipoer aankom, het ons uitgevind hy’t reeds na Jodhpur vertrek,” het Rashmi Karandikar, ’n polisiebeampte, gesê.

“Ons het sy foto met die polisie in Jodhpur gedeel en hulle het hom daar aangehou. Hy word nou na Moembai teruggebring.”

Siddhant sal met sy aankoms in Moembai ondervra word, maar is nog nie formeel aangekla nie.