“Al wat ek kan sê, is dankie tog vir tegnologie. Die situasie is beredder deur die feit dat ek op Skype was,” het die man se ma, Tessa Reddy, aan News24 gesê.

Dit was laas Maandag haar verjaarsdag en sy het ná ’n aandjie uit saam met haar man besluit om met haar seun, Naill, in Parys via Skype te gesels. Hulle het net begin klets toe Tessa hoor haar man, Govan, praat met iemand op die boonste verdieping.

“Govan het ‘hallo’ gesê toe hy hulle raakloop. Hy’t gevra: ‘Wat maak julle hier?’ Hy’t nie besef wie hulle is nie. Hy’t gedink dis ons seun wat in Parktown woon,” vertel Tessa.

'Bly stil of ek skiet’

’n Man in sy twintigs het toe ’n vuurwapen op hom gerig.

“Hulle het vir hom gesê: ‘Bly stil, of ons skiet jou’ en toe het hulle hom by die trappe afgesleep,” sê Tessa.

Sy was nog op die rusbank besig om met haar seun oor Skype op haar iPad te praat toe die drama begin het. Sy’t toe besef en vir hom gesê daar’s iets fout.

“Die ander rower het toe ingekom en ’n vuurwapen teen my gesig gedruk. Hulle het ons albei op die vloer laat lê.”

In ’n poging om die rowers sover te kry om hulle genadig te wees, het sy vir hulle gesê dis haar verjaarsdag. Hulle het hulle egter nie hieraan gestuur nie.

Deur die hele drama het sy nie die Skype-oproep aan haar seun afgelui nie. Die iPad het op die rusbank gelê en hoewel haar seun nie alles kon sien wat gebeur nie, kon hy hoor hoe die rowers op sy ouers skree en toegang tot hul kluis en juweliersware eis.

'Help, asseblief'

Haar seun het dadelik oproepe gemaak en boodskappe na sy broer, Micah, gestuur wat net ’n paar kilometer weg in Parktown woon.

“Hy’t boodskappe op Facebook gestuur en gevra help, asseblief, my ouers word aangeval. Bel die polisie in Brixton,” vertel Tessa.

Die nuus van die inbraak het binne oomblike versprei en Micah Reddy en sy vriend het na die toneel gehaas. Die polisie en plaaslike sekuriteitsmaatskappy is ook ontbied.

Intussen het Tessa en Govan hul weg uit die potensiële gevaarlike situasie probeer onderhandel. “Ons het vir hulle gesê hulle kan die televisiestel en geld vat. Ek het vir hulle gesê ek het nie enige juweliersware nie. Hulle het geld in die kantoor, selfone, skootrekenaars en die iPad gevind waarvan die Skype-oproep toe nog nie afgelui was nie.

Die polisie en sekuriteitsmaatskappy het enkele minute later opgedaag en die twee het by die agterdeur uitgevlug en in die Mellville-koppies verdwyn wat langs die huis is.

Hulle is weg met R10 000 kontant en toestelle ter waarde van R50 000.

Die paartjie is ongedeerd.

Bron: News24

Lees ook:

Jack Parow kry sy gesteelde kar ná ses jaar terug

Skokkende oomblik toe taxi buite beheer raak en omslaan