Volgens Gauteng se polisie het die voorval Sondag gebeur in Lakeside, suid van Johannesburg.

Die seun het na bewering sy 60-jarige ouma, 26-jarige tannie en twee neefs (17 en 18) met ’n byl gekap, sê kapt. Disebo Selepe.

Al vier is na bewering in die kop gekap.

“Sy tannie is op die toneel dood, en sy ouma op pad na die hospitaal,” sê Selepe.

Die twee neefs is na ’n nabygeleë hospitaal gebring en verkeer in ’n kritieke toestand.

Die seun het ook na bewering ’n sesjarige familielid aangeval, maar sy het ongedeerd daarvan afgekom.

Die motief vir die beweerde aanval en die seun se ouderdom was onbekend ten tyde van sy inhegtenisneming.

Die seun sal glo binnekort in die Vereenigingse landdroshof voorkom. –Sapa