Aiden Fry is Maandagoggend uit die hospitaal ontslaan en sal na verwagting ten volle herstel, maar sy ouers sê hulle dink steeds daaraan dat hy so byna nie van sy skooluitstappie teruggekeer het nie. Hul seun is Donderdag by Kwa Cheetah naby Ladysmith aangeval toe ’n jagluiperd hom deur die draad met die klou gekrap het. Daarna het die dier sy kop deur die draad gedruk en die seun gebyt.

Aiden se pa, Craig, het News24 vertel van die reeks dramatiese gebeure wat binne sekondes afgespeel het. “Aiden was saam met die groep kinders buite die kamp, sowat 2,5 m van die draad af. Daar was ’n gids in die kamp. Hy was waarskynlik sowat 10 m van die draad af. Die een dier het uit die bloute tot teen die draad gespring en dit op ’n manier reggekry om sy kop en pote deur te kry. Hy het die draad vinnig en hard getref en dit vorentoe gedruk. Toe het die dier hom (Aiden) met sy kloue gegryp en hom getrek. Dit het hom op sy skouer en rug gebyt,” het die pa vertel.

“Die gidse het daarheen gehardloop en op die dier gespring. Volgens wat vir ons vertel is, het een van hulle sy vingers in die jagluiperd se neus gedruk om dit sover te kry om op te hou byt. Die hele ding het op die langste 12 sekondes geduur,” het hy bygevoeg.

Craig sê personeellede van die skool en reservaat het sy seun na ’n hospitaal in Ladysmith geneem. “Hulle het sy wonde skoongemaak. Toe hy by die huis kom, het hy nie reg gelyk nie en begin opbring. Ons het hom die Donderdagaand na ’n hospitaal in Pietermaritzburg geneem. Hulle het die wonde oopgemaak en moes sny om die infeksie skoon te maak wat reeds posgevat het.”

Clark Smith, ’n woordvoerder van die Kwa Cheetah-teelprogram, het gesê daar was nog nooit voorheen ’n probleem met die drade nie. “Ons ondersoek die voorval en wil uitvind wat presies gebeur het en hoekom dit gebeur het,” het hy bygevoeg.

News24