Luidens berigte het Mercia, Runique en Mercia se agtjarige stiefseun, Gabrienne Ruiters, hul huis omstreeks 06:30 op 4 Julie verlaat. Die trio was veronderstel om by die plaaslike kliniek besoek af te lê.

Daar heers onsekerheid oor of hulle ooit hul bestemming bereik het, want die drie het sedert daardie dag soos mis voor die son verdwyn.

Mercia se eggenoot het hulle as vermis by die polisie aangemeld.

Die agtjarige Gabrienne is intussen gevind, maar waar Mercia en Runique hulle tans bevind, bly ’n raaisel.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat Gabrienne gevind is.

“Die laaste keer dat Mercia gesien is, het sy ’n swart denimbroek, wit top en swart skoene aangehad. Sy het kort swart hare en bruin oë. Runique kan uitgeken word aan haar rooi krulhare.”

Noloyiso het ’n versoek aan die publiek gerig om enige inligting oor die vermistes aan die polisie te oorhandig.

Sy sê: “Enigeen wat weet waar hulle hulself bevind, word versoek om ao. Christopher de Koker by 021 980 5740 of 079 8080 423 te skakel.”