Voor hy die polisie Woensdagoggend gebel het, het Jacob Remaley van Pennsilvanië, Amerika glo uit sy bed opgestaan en na die kombuis gestap waar hy die moordwapen gelaai het.

Toe skiet hy na bewering sy ma, Dana, op ’n kort afstand in die voorkop voor hy dieselfde met sy agtjarige broer, Caleb, doen. Maar dit is nie die weergawe van die gebeure wat Jacob gegee het toe hy 911 bel nie.

“Jacob Remaley het 911 net voor seweuur Woensdagoggend gebel en gesê sy ma en jonger broer is dood en sy pa het ’n vuurwapen in sy bed gesit voor hy die huis verlaat het,” het Stephen Limani, ’n lid van die staatspolisie, op ’n nuuskonferensie gesê.

Volgens The Daily News het die tiener eers die skuld op sy pa probeer pak deur te beweer hy het die moordwapen in sy bed gesit. Die polisie en mediese hulpdiens het dit uitgesluit toe vasgestel is die pa, David Remaley, was tydens die voorval by die werk.

Jacob se geestesgesondheid word ook bevraagteken, want hy het die woord “ma” bly herhaal toe die mediese werkers opdaag. ’n Familievriendin het die beskuldigde as ’n beleefde, saggeaarde A-student beskryf wat by sport en die kerk betrokke was.

“Hy is so ’n goeie kind,” het Anita Stoner aan WTAE-TV gesê. “As jy ’n vriend vir jou kind kon kies, sou dit Jacob gewees het.”

Sy het bygevoeg Dana Remaley het altyd ’n helpende hand uitgereik.

“Ek weet nie wat ek sonder haar gaan doen nie,” het sy gesê. “Sy was altyd daar vir my.”

Die ondersoek duur voort.

Bronne: Daily News, NBC 26, BuzzFeed, WTAE-TV