In Taiwan het ’n 12-jarige seun per ongeluk ’n 350 jaar oue Italiaanse olieverfskildery beskadig.

[caption id="attachment_107622" align="alignnone" width="484"]"Flowers" deur Paolo  Porpora "Flowers" deur Paolo Porpora[/caption]

Die voorval is op video vasgelê.

Op die beeldmateriaal wat uitgereik is deur die organiseerders van die uitstalling Face of Leonardo: Images of a Genius in Taipei, kan gesien word hoe die seun met ’n koeldrank in sy hand verby die skildery stap voor sy voet vashaak en hy sy balans verloor.

Dan kyk hy na die olieverfskildery en dan na die ander mense om hom in die vertrek. Later word gewys daar is ’n vuisgrootte-gat aan die onderkant van die skildery.

Gelukkig is die waardevolle skildery verseker en sal die seun se gesin nie vir die restourasie daarvan hoef op te dok nie.

“Al 55 skilderye in die lokaal is egte stukke, en dit is seldsaam en kosbaar,” lui ’n plasing op die uitstallers se Facebook-blad. “As die werke beskadig word, is hulle permanent beskadig.”

Die skildery, getiteld 'Flowers', deur die kunstenaar Paolo Porpora dateer uit die 1600’s en is deel van ’n versameling van 55 kunswerke wat in die land se hoofstad uitgestal word.

Die seun is nie die enigste een wat al ’n waardevolle kunswerk beskadig het nie. In 2006 het ’n man in die Fitzwilliam-museum in Cambridge oor sy skoenveter gestruikel en drie 300 jaar oue Chinese vase gebreek.

In 2010 het ’n vrou by die Metropolitan-museum in New York teen ’n Picasso-skildery geval en ’n skeur van 15 cm veroorsaak.

Bronne: theguardian.com, metro.co.uk