’n Elfjarige seun van Detroit in Amerika is aangekla van die moord op die driejarige Elijah Walker nadat hy dood in die voorste sitplek van ’n motor met die ouer seun aangetref is.

Die seun, wie se naam weens sy ouderdom nie bekendgemaak mag word nie, was by sy pa se huis toe hy na bewering dié die vuurwapen uit die slaapkamerkas gehaal het. Om ongesiens na die agterplaas te gaan, het hy eers die vuurwapen by ’n venster uitgegooi en dit toe buite gaan optel.

Die seun het in ’n voertuig gaan speel wat agter die huis geparkeer was en die bure se driejarige seuntjie het kort daarna by hom aangesluit. Elijah se tannie het besef hy’t uitgehardloop en na die agterplaas gehaas om hom te vind, maar sy was te laat. Sy het geweerskote gehoor en hom dood in die voorste sitplek van die motor met ‘n skietwond in sy gesig aangetref. Dis onduidelik wat gebeur het terwyl die seuns in die voertuig was, maar daar word bespiegel dat die 11-jarige met die geweer gespeel en dit per ongeluk afgevuur het. Hy staar nou aanklagte van manslag en onwettige afvuur van ’n vuurwapen in die gesig. “Ek kan nie onthou dat ons al iemand so jonk daarvan aangekla het dat hy ’n lewe geneem het nie,” het Kym Worthy, aanklaer in die saad, in ’n nuusverklaring gesê. “Dis baie tragies dat die beweerde feite in hierdie geval dit vereis het.” Elijah se familie is verpletter deur die verlies van wat hulle as hul “gelukkige baba” beskryf. Hy is vroeggebore en het sonder groot komplikasies oorleef. “Almal is seergemaak. Dis baie hartseer. Dis tragies,” het Tameka Cash, ’n nabye familielid, gesê.

Bronne: cnn.com, freep.com