Die voorval het Sondagmiddag by die Centurion Lifestyle-winkelsentrum plaasgevind toe rowers en ’n veiligheidswag oor en weer op mekaar geskiet het. Die seun het op die agterste sitplek van ’n motor gesit toe hy deur ’n dwaalkoeël in die regterskouer getref is.

Huisgenoot het vroeër berig rowers het ’n 44-jarige vrou van Cornwall Hill in Centurion van haar trouring probeer beroof waarna ’n skietery ontstaan het.

Die vrou het in haar motor vir haar man gewag toe rowers langs haar stilhou en op haar geskree het om haar ring aan hulle te oorhandig. Dis toe sy gil dat die veiligheidswag haar te hulp gesnel het.

Die rowers het kort daarna gevlug. Die seun is op die toneel behandel en na die Unitas-hospitaal geneem.