Eet jou seun jou uit die huis uit?

Wel, Harry Burlton, ’n sesjarige van Somerset in Brittanje, lê weg aan meer as net sy ma se kos.

Dié outistiese seuntjie is behep daarmee om goed in sy mond te prop en te eet. Nie net krap hy verf van die mure af nie; hy skeur ook graag matrasse uitmekaar.

Sy ma, Zoe Burlton (24), is raadop en moes onlangs hul leefkamer se mat vervang nadat Harry dit stuk-stuk opgeëet het.

“Ons moes spykers in die matte inkap om hom te keer,” het sy vertel.

“Maar hy kry dit steeds reg om dit uit mekaar te ruk. Hy kry los drade waaraan hy begin trek en dan eet hy groot hompe. Hy kou dit deeglik en sluk dit af.”

Harry eet nie net matte nie, maar ook gelamineerde vloere.

Harry eet nie net matte nie, maar ook gelamineerde vloere.

“Ons het altyd muurpapier gehad, maar hy het dit begin afskil. Toe haal ons alles af, maar nou kou hy agter die verf aan.”

Die ironie? “Hy eet nie graag kos nie, maar hy eet alles anders,” vertel Zoe.

Harry is op dieselfde ontwikkellingsvlak as ’n eenjarige en kan nie kommunikeer nie. Hy verstaan nie dat sy optrede vreemd is nie.

Hy toon geen belangstelling in speelgoed nie, en vroetel liewer met elektriese bedrading en ander gevaarlike goed.

Outisme is op ses maande by Harry gediagnoseer en hy het eers onlangs leer loop.

Omdat hy nie kan praat nie, is Zoe baie bekommerd dat hy iets gevaarliks kan insluk. “Hy kan nie vir my sê wanneer hy sleg voel nie; daarom huil hy net en dan moet ek hom elke keer dokter toe vat, want ek is bekommerd.”

Zoe hoop om nou ’n “veilige kamer” in haar huis vir Harry in te rig. Sy hoop op ’n kamer met sagte materiaal teen die mure, maar materiaal wat haar seun nie sal kan afruk en verorber nie.

Bronne: Daily Mail; Express.co.uk