Die groepie, almal tussen 11 en 15 jaar oud, het Christopher Raymundo Márquez Mora (6) blykbaar genooi om saam met hulle te kom speel voor hulle hom versmoor, met klippe bestook en toe doodgesteek het.

Christopher se lyk is Saterdag in ’n vlak graf langs ’n spruit gevind, twee dae nadat hy die laaste keer saam met ’n groep kinders aan die buitewyke van die stad Chihuahua in Noord-Mexiko, gesien is.

Die vyf verdagtes – twee 13-jarige meisies, ’n 11-jarige seun en twee 15-jarige seuns – het Christopher glo Donderdag genooi om op ’n oop stuk grond naby sy huis te kom speel. Toe hulle by die spruit kom, het hulle gesê hulle gaan maak of hulle hom ontvoer. Volgens die streeksaanklaer se kantoor het hulle sy hande en voete vasgebind en ’n stok teen sy nek gedruk wat hom feitlik versmoor het. Daarna het hulle hom met ’n kierie geslaan, klippe na sy gesig gegooi en hom toe in die rug gesteek.

Die owerhede sê die verdagtes het toe met hul hande ’n gat gegrawe, die liggaam daar ingesleep en dit met onkruid en ’n dooie dier bedek.

Volgens The Daily Star het die staatsaanklaer, Sergio Almaraz, gesê die minderjariges het erken hulle het Christopher doodgemaak. Terwyl hulle besig was om te speel, het “een van die 15-jariges voorgestel hulle maak die kind (Christopher) dood”.

Sy liggaam is gevind nadat ondersoekbeamptes die kinders ondervra het. Drie van die kinders is te jonk om vir die misdaad aangekla te word, aangesien kinders in Mexiko eers op 14-jarige ouderdom vir kriminele dade aanspreeklik gehou kan word.

Bronne: The Independent, News.com.au