Netwerk24 berig rowers het ’n 44-jarige vrou van Cornwall Hill in Centurion van haar trouring probeer beroof waarna die skietery losgebars het.

Die vrou, wat nie haar naam bekendgemaak wil hê nie, het omstreeks half een Sondagmiddag saam met haar man by die sentrum aangekom. Terwyl haar man inkopies gaan doen het, het die vrou besluit om in die lugverkoelde motor vir hom te sit en wag.

Dis toe dat die rowers in ’n Mini Cooper langs haar stilhou en vir haar skree om haar ring aan hulle te oorhandig. ’n Veiligheidswag van die sentrum het glo die vrou se benoude gille gehoor en op die rowers begin skiet vanaf ’n buitetrap.

In die geharwar kon die vrou nie daarin slaag om haar ring van haar vinger af te haal nie. Met die veiligheidswag wat op die rowers losgebrand het, het die insittendes van die Mini besluit om eerder te vlug.

’n Sesjarige seun wat agter in ’n ander motor in dieselfde parkeerarea gesit het, is deur ’n dwaalkoeël in sy regterskouer getref, het Werner Vermaak, woordvoerder van ER24-nooddiens bevestig.

Hy is op die toneel behandel en in ’n ernstige toestand na die Unitas-hospitaal gehaas. Volgens Kapt. Kay Makhubela, provinsiale polisiewoordvoerder, is die veiligheidswag wat geskiet het, vir poging tot moord in hegtenis geneem.

Dit is omdat hy glo die dwaalkoeël wat die seun getref het, afgevuur het.

Ondersoek word ook ingestel oor die afwesigheid van die seun se ouers, want omstanders het hom na bewering alleen in die motor aangetref nadat die dwaalkoeël hom getref het. Dis nog onduidelik of sy ouers hom sonder toesig in die motor gelos het.