Navorsers van dié webtuiste oor familiegeskiedenis voorspel die koninklike egpaar, wie se eersteling na verwagting op 13 Julie gebore word, kan tot ses kinders hê as ’n mens so na Catherine se familie kyk.

Rhoda Breakall, die hoof van Genes Reunited, het gesê: “Nadat ons ’n baie goeie voorspelling gewaag het oor die geboortedatum van hul eersteling, het ons na die Middleton-rekords gekyk om te sien wat ons kan uitvind. Die aantal kinders in die Middleton-familie het ons verras en ons wonder of die hertog (31) en hertogin van Cambridge (31) in Catherine se voorvaders se voetspore gaan volg. Voor haar troue met William was Catherine as Kate Middleton bekend.

“Mense kan hul familiegeskiedenis naspoor deur die 515 miljoen rekords op Genes Reunited te gebruik. So kan hulle dalk ongelooflike patrone vind wat hul voorvaders betref.”

Die webtuiste het ook voorspel William en Catherine se tweede kind sal in April 2016 gebore word.

Verlede jaar het Genes Reunited-navorsers die koninklike geboorte- en huweliksdokumente van die 100 jaar nagegaan en ontdek daar verloop gewoonlik 851 dae tussen ’n koninklike troue en die koms van ’n baba.

Hulle het voorspel William en Kate gaan ’n seun hê en dat die baba op 27 Augustus vanjaar gebore gaan word. Nie sleg as ’n mens dink die koninklike pienkvoet word op 13 Julie verwag nie . . .