Dit klink soos ’n draaiboek vir ’n sepie - gerugte van ’n seksskandaal, verdeeldheid in die Australiese rugbyspan en ’n topspeler wat sy plek kwyt is.

Die Australiese rugbyafrigter Ewen McKenzie ontken hy het ’n affair met ’n personeellid. Dit volg op ’n argument oor blykbaar beledigende boodskappe van die rugbyspeler Kurtley Beale wat Vrydag ’n onverwagte wending geneem het.

’n Ernstige Ewen ontken gerugte oor ’n verhouding met die sakebestuurder, Di Patston. Sy is op stresverlof ná ’n rusie met Kurtley tydens ’n vlug verlede week onderweg na Argentinië. Kurtley is weens die rusie uit die nasionale span gehaal, en is later tot verdere kennis uitgesluit uit die groep nadat dit bekend geword het hy het “uiters beledigende teksboodskappe” oor ’n personeellid gestuur. “Ek en sy het ’n professionele verhouding. En ek ontken dit,” het Ewen gesê toe hy gevra is of hy ’n “intieme verhouding” met Di het.

‘Daar is ’n soort veldtog om die waarheid te verdraai.’

“Daar is ’n soort veldtog om die waarheid te verdraai; dit is nie die geval nie,” het Ewen, ’n gesinsman, gesê.

Die Australiese Rugbyunie ondersoek Kurtley weens die rusie, asook die boodskappe. Hy sal na verwagting vroeg volgende week verhoor word.

Die Australiese media berig die nasionale span is verdeeld. Hulle herstel ook nog van hul nederlaag aan die hand van Argentinië - die span se eerste oorwinning in die Rugbykampioenereeks.

Maar Ewen het gesê: “Ek dink nie ons is verdeeld nie. Ek weet daar is baie bespiegeling in die media, en almal het ’n mening, maar ek ken die groep.” Hy het Di se aanstelling verdedig, wat in sy tyd gemaak is, en het gesê hy glo nie dit het “angs” in die span veroorsaak nie. “Sy is die sakebestuurder en het ’n spesifieke rol om die span tot ’n nuwe vlak te voer,” het hy tydens ’n mediakonferensie in Sydney gesê.

‘Sy het uitstekende vaardighede.’

“Sy het uitstekende vaardighede en het ’n groot verskil aan die sakekant gemaak; dit is wat sy gedoen het.”

Ewen was ook gefrustreerd dat die span voor hul finale toets in Brisbane volgende week teen die All Blacks afgelei word. “Ek is omgekrap omdat ons op rugby moet konsentreer en op baie verskillende maniere afgelei word,” het hy gesê. “Dit is frustrerend, maar ons het nou die uitdaging om alles weer op die regte spoor te kry.

'Ek kan nie keer dat mense gis nie.'

“Ek kan nie keer dat mense gis nie. Dit is nou oor my, maar volgende week is dit oor iemand anders; dit is hoe dit is. Ek aanvaar dat dit die lewe in die openbare oog is, maar jy steur jou nie daaraan nie.”

Kurtley is vir ’n onbepaalde tydperk geskors terwyl die rugbyunie se ondersoek voortgaan.

Die agterspeler moes verlede jaar berading en rehabilitasie ontvang weens sy stryd met alkohol.

Ewen het gesê hy het eers verlede week uitgevind van die teksboodskappe, wat blykbaar grafiese foto’s bevat en al in Junie gestuur is.

“Ek het in Buenos Aires uitgevind van die boodskappe. Ek weet van die inhoud, maar ek het nog nie die foto’s gesien nie,” het Ewen gesê.

“Toe ek daarvan hoor, het ek die inligting aangestuur. Sy (Di) is natuurlik weg as gevolg van stres en hoe sy oor die omgewing gevoel het. Alles hang nou van die integriteit-eenheid af.”

Di is vroeg uit Argentinië weg en is sedertdien met verlof.