Nadat ’n plaaswerker onlangs in die Limpopo gewond is toe hy glo vir ’n bosvark aangesien is, het ’n sendeling Vrydag in die Ritavi-landdroshof in dié provinsie verskyn nadat hy na bewering, terwyl hy met ’n windbuks na blouapies geskiet het, ’n plaaswerker raak geskiet het.

Johan Potgieter (47) van die evangelisasienetwerk OM Ministries is Donderdag in hegtenis geneem nadat Ishmael Mathanene (55), ’n plaaswerker, deur 'n windbukskoeël in die kop getref is. Potgieter is Vrydagmiddag op borgtog van R5 000 vrygelaat en moet weer einde April in die hof verskyn.

Die SAPS sê in ’n verklaring die verdagte het "na bewering die plaaswerknemer geskiet nadat hy hom vir ’n aap aangesien het". Volgens die verklaring word hy van poging tot moord aangekla. Die provinsiale kommissaris luitenant-generaal Nneke Ldwaba verdoem luidens dieselfde verklaring "dié gedrag in die sterkste moontlike terme".

Hy waarsku voorts dat vuurwapeneienaars ’n teiken behoorlik moet identifiseer voordat hulle wapens gebruik.

Die voorval het op die Novengilla Groep 91-hoewes in Letsitele plaasgevind. Mathanene was blykbaar aan diens toe sy voorman hom gestuur het om gereedskap in ’n stoorkamer te gaan haal. Op pad terug het die koeël hom blykbaar net bo ’n wenkbrou teen die voorkop getref.

Potgieter het volstrek ontken dat hy Mathanene vir ’n aap aangesien het: volgens hom het hy vanaf sy stoep met die windbuks na blouapies in ’n lemoenboord geskiet toe die werker per ongeluk getref is. Hy en sy gesin woon ook slegs op die betrokke hoewe; hy is nie die eienaar soos wat die polisieverklaring te kenne gee nie.

Volgens die streekkoerant Far North Bulletin is die buitegebou waar Mathanene die gereedskap gaan haal het anderkant die lemoenboord. Toe hy besef wat gebeur het, het Potgieter Mathanene die wond op die stoep help skoonmaak. Hy het ook daarna 'n verklaring by die Letsitele-polisiestasie gaan aflê.

Die volgende dag het die polisie hom egter tuis weens die poging tot moord-klag kom arresteer. Mathanene is ná behandeling in die plaaslike hospitaal nog op die dag van die voorval ontslaan.

Die SAPS-ondersoekbeampte het gedurende die borgtogaansoek gesê die voorval was nie na sy mening enigsins rasgedrewe nie.

* Stefan Hepburn van Pretoria is omtrent twee weke gelede op borgtog vrygelaat nadat hy Jan Railwa, ’n plaaswerker, na bewering twee keer raak geskiet het toe hy hom glo in 'n mielieland in die Limpopo se Tuinplaas-distrik vir ’n bosvark aangesien het.

Ekstra bronne: letabaherald.co.za; bulletin.us.com; ewn.co.za