Hoewel beroepsgimnaste gewoonlik van jongs af begin opleiding kry, word kinders wat belofte in die sport toon in China reeds vroeg uitgesoek en na afrigtingskampe gestuur om hul vaardighede te slyp. Die kinders word oor die somervakansie na gimnastiekkampe gestuur omdat hul ouers gretig is dat hulle uitblink.

Die kinders by ’n afrigtingskamp in Bozhou in die Anhui-provinsie word geleer om hul liggaam verby die pyndrempel te druk terwyl hulle aan horisontale stawe hang en hulle in verskeie strekposisies verwring. Seuns en meisies wat nie ouer as vier of vyf jaar lyk nie, verduur ure lank strawwe oefensessies met die hoop dat hulle China eendag sal trots maak. By ’n ander afrigtingskamp in Nanning, China, herinner die woord goud teen die muur die kinders hoekom hulle daar is.

Hoewel sulke behandeling van kinders in die Weste as marteling beskou sal word, is dit alledaags in China. Die land is bekend vir sy strawwe oefenprogramme en wenhouding. Kinders word geleer hul missie in die lewe is om die goue medalje voor die Amerikaners of ander buitelanders weg te raap.

En dalk werp al die harde werk vrugte af; China het die meeste medaljes in gimnastiek by 2012 se Olimpiese Spele in Londen ingeoes met altesaam 12 medaljes, waarvan vyf goud was.

BRONNE: dailymail.co.uk, dailynew5.com