‘n Bietjie meer as `n jaar nadat hulle hul verlowing met baie foto’s en liefdeswoorde op Facebook aangekondig het, kom die boodskap uit die bloute op dieselfde sosiale medium: "Dit is 'n hartseer dag, want ek en Carina Diedericks-Hugo het besluit dat ons paaie moet skei om verskillende en persoonlike redes," skryf die voorslagwynmaker, Bertus "Osbloed" van Niekerk.

[post-slider]

Oor die redes waarom die liefdesverhaal van die bekroonde skrywer van jeugverhale en die oud-predikant en wynmaker so skielik geëindig het, is daar gou gegis en gegons.

"Daar is nie enige duister, verborge redes, of nuwe mense in ons lewe wat daartoe aanleiding gegee het nie," sê Bertus (49) aan Huisgenoot. En Carina gesels saam, want hulle is "nog die beste maats", soos Bertus dit stel. “Daar is goed wat nie gewerk het nie; goed wat uit ons verlede oorgespoel het en nie uitgesorteer kon word nie. Ons het besluit voor die slegte die goeie oorskadu en insluk, moet ons uiteen," verduidelik hy verder.

“Daar is goed wat nie gewerk het nie; goed wat uit ons verlede oorgespoel het en nie uitgesorteer kon word nie"

"Ons het mekaar ontmoet by `n kruispad. En ons was nou weer by `n kruispad in ons lewens," voeg Carina by.

Albei het kort tevore ‘n persoonlike verlies gely. Bertus was verpletter toe sy tweede vrou, die bekende grafiese ontwerper Selma Albasini (47), op 7 April verlede jaar weens hartkomplikasies sterf. Sy het die etikette ontwerpe van sy Revelation-wyn wat in die nuus was toe hy gereël het dat `n kaal meisie te perd opgedaag by die bekendstelling daarvan drie jaar gelede in die Helderberg.

Carina se huwelik met die digter en vertaler, Daniël Hugo, het in 2012 verbrokkel. Sy en Bertus het mekaar op Facebook ontmoet. Hul eerste afspraak was om te gaan pizza eet en daarna het hulle elke week na dieselfde eetplek in Stellenbosch teruggekeer. Op 13 Oktober verlede jaar het hulle amptelik verloof geraak. Toe hulle die verlowing verbreek, het hulle besluit om ‘n boodskap op albei se Facebook-blaaie daaroor te plaas. Dit lui: "Daar is geen animositeit nie, net die besef dat ons in verskillende rigtings beweeg. (Ons weeklikse pizza-date bly staan, so ook ons liefde vir champagne drink met 'n see-uitsig.) Daar wag opwindende projekte wat ons saam aanpak waar ons woorde en wyn sal vervleg . . . Altyd ?. Altyd."

"Daar is geen animositeit nie, net die besef dat ons in verskillende rigtings beweeg."

Die reaksie was oorweldigend. "Julle is buitengewone mense. Gaan doen jul buitengewone dinge," skryf `n vriend op Carina se blad.

"Ai, Bertus. Dis hartseer. Maar met so `n positiewe houding kan ’n mens mos net die mooi uit enige verhouding saam met jou neem . . . die toekoms in," skryf een vriend.

Baie mooi dinge het in hul jaar saam gebeur, sê Bertus. Carina het in hierdie tyd 30 jeugboeke die lig laat sien. Sy is veral bekend vir haar gewilde @Thomas-reeks.

En Bertus het `n nuwe wyn, Crouchen, vir die eerste keer in Suid-Afrika bekendgestel. `n Wynskrywer het dit 90 uit 100 gegee.

Carina werk nou aan haar eerste boek vir volwassenes. Dit gaan oor die "verlies van `n ongebore kind", vertel sy. "Omdat daar nie `n grafsteen is nie, negeer dit dikwels die verlies. Ek is iemand wat hierdie verlies goed verstaan," sê sy, maar wil nie verder daaroor uitwei nie. Bertus beplan om ‘n wyn te maak met dieselfde naam as die titel van die boek.

Carina het in hierdie tyd 30 jeugboeke die lig laat sien en Bertus 'n nuwe wyn, Crouchen.

Maar wat gaan met hul vriendskap gebeur as hulle vorentoe ander mense ontmoet? "Dit sal ons verhouding soos dit nou is, weer herdefinieer," meen Carina. "Maar Bertus sal altyd `n enorme deel van my lewe bly."

As hy iemand anders ontmoet, sal sy moet sterk wees, sê Bertus. "Sy kan nie bedreig voel deur Carina nie. Sy sal daarmee moet vrede maak dat ek en Carina groot liefdes was en is."

Kan ekse vriende bly?

Ekse kan vriende bly as dit ‘n gesamentlike besluit was om uitmekaar te gaan, meen dr. Brent Mattingly, mede-skrywer van die boek, Science of Relationships. As hul romantiese verhouding bevredigend was, kan dit as grondslag dien vir 'n goeie vriendskap, sê hy.

Tog waarsku dr. Rosa Bredekamp, 'n sielkundige van Stellenbosch, dit is nie so maklik om ‘n liefdesverhouding na ‘n vriendskap te laat terugkeer nie. Dis veral die geval "as een of albei partye nie kan afskeid neem van die emosionele, intieme aard van die verhouding en sy of haar interafhanklikheid van die ander een nie".

‘n Vriendskap tussen ekse is ook net moontlik as albei ‘n behoefte daaraan het.

"Die behoefte aan ‘n vriendskap kort na die beëindiging van ‘n verhouding is soms net deel van die ontkoppelingsproses en nie noodwendig die begin van ‘n langtermynvriendskap nie," sê Rosa.

Faktore soos die duur van die liefdesverhouding en hoe intens dit was, sal bepaal hoe lank dit vir die brein neem om met die metaforiese "dimmer switch" die verliefdheid en liefde na vriendskap om te skakel, sê dr. Hermann Liebenberg, ‘n sielkundige van Centurion.

Nog ‘n aspek is of nuwe verhoudingsmaats daarmee gemaklik sal wees as die vriendskap tussen die ekse voortduur.

  • Deur: Pieter van Zyl