Genoeg was genoeg vir die Johannesburgse sakeman Piet Malan. “Elke maand vat julle R10 000 by my! Don’t use Vodacom, they’re sh**,” sê Piet Malan in ’n video wat sy stiefseun van die voorval opgeneem het.

Kort voor hierdie voorval is R260 000 uit Piet se sakerekening onttrek en aan Vodacom betaal. Die bank het aangedui Piet het sy geheime kode uitgegee, maar dit was ’n internettransaksie.

“Ek kon nie die transaksie magtig nie, want dit was terwyl my foon af was.” Piet vermoed die betaling het plaasgevind toe sy selfoon een Vrydagaand geblokkeer is. Die Maandag het hy gebel en gebel om die probleem te probeer oplos, maar al reaksie wat hy gekry het was “ ’n klomp stories”.

Piet sê aanvanklik is aan hom gesê die R260 000 is vir data. Hy het dit glo gebruik om pornografiese webtuistes te besoek.

“Ek is 60 jaar oud en ’n sakeman. Waar gaan ek tyd kry om sulke webtuistes te besoek? Dis nie ’n bietjie geld nie,” sê hy.

Nadat sy foon eindelik weer geaktiveer is, moes hy boonop agterkom R249 000 is ook uit sy bankrekening gesteel.

“My onderneming het amper ondergegaan as gevolg daarvan.”

Piet, uitvoerende hoof van AA Doors, se selfoon is verlede Januarie een aand geblokkeer. Al het hy die diensverskaffer van ’n landlyn gebel en sy simkaart geruil het, soos hulle gevra het, was sy selfoon vier dae later steeds nie geaktiveer nie.

Die diensverskaffer het onderneem om van sy geld terug te betaal, maar ’n jaar later het hy nog nie ’n sent van die geld gesien nie. Piet, wat vier Vodacom-selfoonkontrakte het, is toe na die Westgate-winkelsentrum se Vodacom-tak.

“Elke maand vat hulle R10 000 van my. Ek sal julle vandag wys wat f***** kwaad is!” sê hy in die video.

“My besigheid werk deur my selfoon. Ek is fed-up met Vodacom,” sê Piet, Hy was so kwaad sy stiefseun moes net keer of hy het met sy motor in die Westgate-winkelsentrum ingery. Aan die einde van die video konfronteer ’n sekerheidswag Piet se stiefseun terwyl hy die video maak.

“Dit word nie toegelaat nie,” sê die wag vir hom.

Ná die voorval is sy selfoon sowat ’n uur later weer aangeskakel.

In die videogreep stel Jorge Mendes, Vodacom se hoofbeampte van die afdeling verbruikersverkope en verspreiding, homself bekend.

“Baie van julle het onlangs in die sosiale media die betreurenswaardige voorval met een van ons kliënte, ’n mnr. Malan, gesien. Ek wil hierdie geleentheid gebruik om hom opreg om verskoning te vra vir die voorval.

“Hierdie soort standaarde is onaanvaarbaar en ons duld beslis nie sulke diens nie. Mnr. Malan, opregte verskoning van ons kant af.

“As ’n blyk van welwillendheid het ons die rekening gekrediteer, maar ek stel persoonlik ondersoek in na die voorval om seker te maak hierdie soort diens word nie in ons winkels herhaal nie.”

Jorge spreek daarna die hoop uit dat Piet een van hul “gewaardeerde kliënte bly”.

    Vroeër vandeesweek het Karlien van Jaarsveld ook gal afgegaan oor haar hemelhoë selfoonrekening, maar die probleem is intussen opgelos. Die sangeres het Vodacom Sondag op Facebook gevra om te verduidelik hoe sy ’n rekening van R25 000 kon ontvang terwyl sy die afgelope agt jaar dieselfde kontrak het.